Wat sou nie alles deur Johannes die Doper se kop gegaan
het toe Jesus voor hom kom staan om gedoop te word nie?
Die Een waaroor hy die hele tyd preek is hier! Om gedoop
te word! Ons het seker nie ‘n idee hoé ons sal optree as
Jesus op hierdie oomblik voor ons kom staan nie. Johannes
probeer dit verhinder om Jesus te doop en sê:
“Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe.”
– Matteus 3:14. ‘n Mens verstaan dat, toe Jesus vir Johannes
gevra het om Hom te doop, hy dit nie wou doen nie. In sy oë,
hoe kan die kleintjie, wat minder moet word, en die Here meer
in sy lewe,...nou die Grote doop wat die Here is?!
Johannes het seker verwag Jesus moet hom doop. Johannes het
geweet Jesus is die Messias, en hoe groot Hy is, en dat Hy die
Seun van God is.
Maar Jesus is vasberade: “Jesus wou nie nee vir ‘n antwoord
aanvaar nie. “Doop My nou dadelik!” het Hy Johannes beveel.
“Want dit is wat God wil hê. So voldoen Ek en jy aan God se
groot plan om die wêreld te red.” – vers 15. Wow!
Hoeveel keer het ons al soos ‘n Johannes nee gesê vir ‘n pad
wat die Here wou hê ons moet stap? Soms het ek gevoel ek
kan nie. Soms was ek te moeg. Soms het ek nie geweet dit is
wat die Here wou hê nie omdat ek nie luister nie. Soms het ek
net te klein gevoel vir die opdrag. Soms het ek net nie God se
groter plan raakgesien nie. Selfs Johannes die Doper moet hier
met dringendheid deur Jesus herinner word aan God se groter
plan! “So voldoen Ek en jy aan God se groot plan om die wêreld
te red.”
Hoor die Here as Hy vandag met dringendheid met jou praat
oor jou roeping om deel te wees van sy groot plan om die wêreld
te red. Jesus het dit reeds vir jou kom moontlik maak om dit te
kan doen. Dit maak nie saak hoe jy lyk of wie jy is nie. Al het jy
geen “opleiding” nie, God roep jou om sy verteenwoordiger te
wees in hierdie wêreld. Ook met ‘n uitroepteken en die
dringendheid waarmee Johannes geroep word.
Kyk wat gebeur as Johannes God se wil doen en Jesus doop.
God se wonderwerk word gesien! Die mense is stomgeslaan.
Die Heilige Gees daal soos ‘n duif neer op Jesus. God is daar waar
sy wil gedoen word en doen self sy wonderwerk. God self
het gesê: “Dit is my Seun vir Wie Ek baie lief is. Hy verskaf My
baie vreugde.” – Matteus 3:17.
Weet jy dat God ook vir jou baie lief is? Jy is ook God se kind.
Gee ook met jou lewe vreugde aan God! Aan die hand van vers 15,
soos reeds genoem ten opsigte van Johannes en Jesus, nou hierdie
vrae aan jou, ten opsigte van jou en Jesus:
Doen jy wat God wil hê? Voldoen jý so, saam met Jesus, aan God
se groot plan om die wêreld te red? Jesus het tog gesê:
Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle”.
Ernest