Moenie te vinnig oor hierdie 2 verse en 6 kort sinne lees nie.
Lukas 3:21-22: “Onder al die mense wat na Johannes tot gekom
het om gedoop te word, was daar ‘n baie belangrike Man: Jesus.
Nadat Johannes Hom klaar gedoop het, het Jesus tot God gebid.
Terwyl Hy nog besig was om te bid, het die hemel skielik oopgegaan.
Die Heilige Gees het soos ‘n duif na Jesus toe afgekom. ‘n Stem uit
die hemel het ook hardop gesê: “Jy is my Seun vir Wie Ek baie lief is.
Oor jou is Ek baie bly.”

Lukas vertel amper te vinnig wat hier gebeur. En net so vinnig lees
ons daaroor en het nie ‘n idee hoe groot dit is wat hier gebeur nie!
Ons verstand is te klein om die bymekaarkoms van die Drie Enige God
in drie Persone hier te begryp. Ons besef nog minder die grootsheid
van die bymekaarkoms self. Eintlik kan ons gladnie met menslike
verstand die grootheid van wat hier gebeur verstaan nie. Ons kan nie
heeltemal verstaan hoé Jesus wat God is, ook mens kon word nie.
Ons verstaan verder ook nie hoe God die mens so liefgehad het dat
Hy nie anders kon as om sy Seun, en daarmee eintlik ook Homself,
af te stuur aarde toe om vir sy geliefde skepsels se verkeerde dade
te sterf nie. Ons verstaan nog minder die werking van die Heilige Gees.

Ons kan maar net probeer verstaan wat God aan ons openbaar.
Net hier, waar Jesus gedoop word, sien ons hoe God se plan
bymekaarkom om die mens te red! Jesus word gedoop.
En direk daarna bid Jesus! Wat sou Hy bid? Hy praat met sy Vader.
Wat sou Hulle vir mekaar sê oor dit wat hulle wéét gaan kom?”
Want dit alles is volgens God se wil. Dan praat God menslik hoorbaar
met sy Seun: “Jy is my Seun vir Wie Ek baie lief is. Oor Jou is Ek baie bly.”
Die Heilige Gees is ook betrokke. Die Drie Enige God in aksie!
Die wonderlike Goddelike verhouding tussen Vader, Seun en Heilige Gees.
Jesus sal nooit op aarde ‘n alleenpad stap nie...tot aan die kruis,
dáár sou Hy Godverlate wees. Ook dit is te groot vir ons begrip.
Om Godverlate te wees...Want, op daardie oomblik dra Hy die hele
mensdom se sonde op Hom.
Alles en almal staan magteloos teen die mag van God wat hier
geopenbaar word. God se reddingsplan sou volvoer word.
Niks of niemand sou dit kon keer nie! Dit is groot. Dit is baie groot.
Dit is oneindig groot! Dit doen God, tot redding vir elkeen wat glo!
Glo jy?

Ernest