Jesus se doop is groter as wat ons ooit kan dink.
Dink net weer mooi aan Jesus se optrede en God se reaksie.
Wat doen Jesus? Jesus praat met God. Reg deur al die
evangelies sien ons dit. Jesus hou nie op om met God te
kommunikeer nie. Kort-kort maak Hy tyd om stil te raak en
Hy gaan sonder Hom af in die teenwoordigheid van God.
Hy máák tyd. Wanneer Hy wysheid nodig het keer Hy Hom
tot sy Vader. Wanneer tye moeilik raak voor die kruis,
gaan sit Hy by God. Gebed was vir Jesus die belangrikste
deel van sy bediening. Dit is ook die eerste ding wat Hy doen
wanneer Hy gedoop word. Jesus maak intens erns met sy
verhouding met sy Vader. Hy maak tyd met God en niks sou
Hom daarvan weghou nie.
Wat sê dit vir jou oor jou gebedslewe?

Aan die ander kant van die verhouding is God,
die Almagtige Vader! God wat straal van sy liefde vir sy Seun.
Lukas 3:22 vertel van ‘n stem uit die hemel wat hardop sê:
“Jy is my Seun vir Wie Ek baie lief is. Oor Jou is Ek baie bly.”
‘n Ander vertaling sê: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug
Ek My.”
God loop ook oor van liefde vir jou en my! Hy kan nie anders nie,
want God is liefde. Hy smag na ‘n verhouding met jou.
Is dit vir jou moeilik om dit te glo? Glo dit! God se dit!
Dit is nie die besluit of oortuiging van iemand anders wat jou
daarvan probeer oortuig nie. God sê vir jou, deur die Heilige Gees
wat die Gees van die waarheid is, dat jy dit moet glo!
God is oneindig lief vir jou!

By die doop van Jesus rus God Hom ook toe vir dit wat voorlê.
Let op, God maak nie die paaie vir Jesus gelyk nie. Die pad loop
tot aan die kruis, deur die dood en helse pyn tot by die nuwe lewe
met die opstanding, hemelvaart en wederkoms...!
Jesus kom stap die stofpaaie waar mense Hom verag en veroordeel.
God rus Hom toe daarvoor! Deur die Heilige Gees. Maar God doen
dit ook met ons! Hy rus ons toe deur die Heilige Gees om sy
verteenwoordigers in hierdie wêreld te wees. Hy gee boonop aan
ons gawes om Hom te dien. Hoekom sukkel ons daarmee om God
se verteenwoordigers te wees. Ons sukkel omdat ons nie tyd saam
met God maak nie. Te haastig. Te vinnig. Te besig. Te self gesentreerd.
Ons bring nie tyd by ons Toeruster en Leermeester deur nie.
Ons bid te min. Ons is te min stil by God om Hóm te hoor.
Ons praat te veel en luister te min na Hóm.

Volg nou Jesus se voorbeeld en maak tyd om deur God toegerus te
word en God te hóór! Hier sal jy die Heilige Gees duidelik hoor.
Hier sal jy jou toerusting en gawes leer ken en dan tot eer van God
gebruik.
Word deel van die grootheid van God se reddingsplan vir die wêreld!

Ernest