(aangepas - van Fr Mike - Interrupting the Silence)
Kom ons bid volhardend en opreg saam in hierdie tyd:
God die Vader, U begeer gesondheid in heil vir alle mense;
Ons prys U en dank U, o Heer.
God die Seun, U het gekom sodat ons die lewe mag hê,
en dit in oorvloed;
Ons prys en dank U , o Heer.
God die Heilige Gees, U het ons liggame die tempel van U
heilige teenwoordigheid gemaak;
Ons prys en dank U , o Heer.
O Heilige Drie Enige God, in U leef ons, beweeg ons, en is ons;
Ons prys en dank U, o Heer.
Here, hoor ons gebed, en laat ons noodroep tot by U kom:
Vir almal wat treur oor die dood van familie, vriende en landgenote;
Skenk hulle moed en krag om die dae wat kom te hanteer, o Heer.
Skenk hul die troos van U liefde.
Stort U genesende genade uit oor almal wat siek, beseer of ongeskik is,
dat hulle heel kan word;
Hoor ons, o Heer van die lewe.
Gee dat almal wat U leiding soek, of bang of benoud of oorweldig is,
U wil sal ken en bewus mag wees van U teenwoordigheid.
Hoor ons, o Heer van die lewe.
Gee vrede, moed en hoop aan almal wat ly na liggaam, siel of gees;
Hoor ons, o Heer van die lewe.
Maak dit wat gebreek is deur sonde in ons lewens, in ons nasie,
en in die wêreld heel;
Hoor ons, o Heer van die lewe.
Seën die dokters, verpleegsters, en almal wat die siekes
en lydendes versorg;
Hou hulle veilig en gesond, en skenk hulle wysheid en vaardigheid,
empatie en geduld;
Hoor ons, o Heer van die lewe.
Skenk aan ons president en alle leiers die wysheid, mensliewendheid,
en regverdigheid, dat hulle met doelgerigtheid hulle taak kan volvoer,
om die welsyn van al ons mense te dien;
Hoor ons, o Heer van die lewe.
Skenk wysheid, kreatiwiteit en volharding aan almal in die mediese
professie, die navorsers, beleidmakers, en leiers, as hulle reageer
op hierdie pandemie;
Hoor ons, o Heer van die lewe.
Maak ons harte en hande oop om almal wat hulle werk gaan verloor,
of erg finansieel geraak word, te ondersteun;
Hoor ons, o Heer van die lewe.
Gee ons medelye vir hulle in nood, geduld in hierdie tyd van ellende
by so baie mense, en opregte liefde vir ons naaste;
Hoor ons, o Heer van die lewe.
Laat ons harte nie van vrees versmelt nie;
Hoor ons, o Heer van die lewe.
U is die God wat wonders doen;
U het U mag aan die mense betoon.
U, o Heer, is die bron van die lewe;
In U lig sien ons lig!
Ernest