In die Christelike kerkjaar is Lydenstyd ook
verootmoedigings tyd. In Matteus 26 lees ons dat
Jesus in ‘n verskriklike moeilike tyd van sy lewe is.
Hy weet watter beker Hy binnekort sal moet drink.
En niemand gaan deurentyd by Hom staan nie.
Jesus is alleen. Hy staan op sy eie. Net God is by Hom.
Jesus sê daarom vir sy dissipels in Matteus 26:31:
“…Nog vannag gaan julle almal die rug vir My draai
en maak of julle My nie ken nie.” Almal ontken dit!
Hulle stap dan al drie jaar saam met Jesus. Ons sou
dit ook ontken! Vir drie jaar al offer hulle alles op vir
hierdie Leermeester van hulle. Die eerste een wat
dadelik na vore spring is natuurlik Petrus. Petrus was
gewoonlik eerste om te reageer. Vers 33:
“Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie,
hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit
doen nie.” Met eerlikheid en passie verklaar Petrus sy
liefde vir die Here. Niks sal in die pad daarvan kom nie.
Petrus sal dit eenvoudig nie toelaat nie. Hy sal sy lewe
gee vir die Here. Hy glo dit ook met sy hele hart.
Jesus weet egter presies wat gaan gebeur en reageer
met vers 34: “Petrus”, sê Jesus, “hoor wat Ek vir jou sê:
Vannag nog, voor die haan moet kraai, sal jy drie maal
ontken dat jy ooit iets met My te doen gehad het.”
Petrus het seker gewonder van watter kant af Jesus
nou kom. Ons weet die haan het toe wel gekraai.
Vandag sal baie van ons ook sê dat ons bereid sal wees
om vir ons Christenskap te sterf. Dat ons eenvoudig nie
ons geloof in die Here Jesus sal opgee nie. En dit is so.
Baie van ons sal bereid wees om dit te doen.
Maar die probleem is dat ons in ons alledaagse lewe keer
op keer met ons optrede sê dat ons Jesus van geen kant af
ken nie. Hoeveel keer kraai die haan nie in ons alledaagse
lewe nie!?
Ons bly stil wanneer iemand kort kort die Naam van die Here
misbruik. Dan kraai ‘n haan…
As ek weet van ‘n verhouding wat aan skerwe lê en iemand
in hierdie verhouding weet niks daarvan nie, en ek bly stil…
dan kraai ‘n haan.
As ek skinder, of weier om vrede te maak, of ek wegkyk
van nood, of ek weier om te vergewe, en ek net op myself fokus,
en weier om aan die Gees gehoorsaam te wees…
dan kraai daar ‘n haan.
Dan is dit ook asof ons Jesus alleen laat staan vir die koninkryk
van God en die waarheid.
Hierdie woorde is nie ligte musiek nie.
Dit laat ons verootmoedigend dink hoekom Jesus aan die kruis
vir ons moes sterf.
Ons moenie soos Petrus te vining praat nie,
maar eerder verootmoedigend voor die Here buig.
Ernest