Ons dink ons is in onrustige tye, en ons ís, verseker!
Net so was die dissipels in onrustige tye net voor Jesus
se kruisdood. Hulle is vir die laaste keer saam met Jesus
in die bo-kamer bymekaar. Tomas, Filippus, en Judas
vra vrae aan die Here. Hulle wil uitvind waarheen Hy
op pad is, hoe mens Hom moet volg, en wat met hulle
gaan gebeur.
Jesus sê dit is eenvoudig: Hulle moet Hom net volg!
Maar Tomas bly vra in Johannes 14:5:
“Met alle respek, Here”, sê Tomas, “ons ken nie eens
die adres waarheen U gaan nie. Hoe op aarde sal ons dan
weet watter pad om te vat?” Die dissipels sukkel steeds
om te verstaan.
Jesus se antwoord in vers 6 is die enkele grootste stuk
waarheid waaraan ons almal vir altyd moet vashou.
Die Boodskap vertaal dit treffend só:
“…Laat Ek dit so stel: Ek is die “pad” en my Vader die “adres”.
Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand
‘n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie.”
Maak nie saak hoe groot die storms nou om jou is nie,
hoe die lewe jou rondgooi nie, hoe benoud jy is en vir jou lewe
vrees nie, hou eenvoudig met alles wie jy is en alles wat jy het
aan hierdie waarheid vas! Jesus is die weg en die waarheid en
die lewe! Dit is so eenvoudig soos dit, en dit is Jesus se eie
woorde in Johannes 14:6.
Stap die pad saam met Jesus.
Leef die waarheid saam met Jesus.
Leef in Jesus!
Jesus leef in jou!
Ernest