Wanneer iemand in atletiek te vinnig wegspring,
sê ons hy is “te vroeg uit die blokke” of “te vining uit die blokke”.
Die dissipel wat maklik te vroeg uit die blokke was, is Petrus.
Hy was passievol. Instinktief. Impulsief. Nie maklik bang nie.
Ons lees in Johannes 18:10: “Simon Petrus het ‘n swaard by
hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van
die hoëpriester en kap sy regteroor af.”
Sommer so. Sonder om te dink wat die gevolg daarvan kan wees.
Hy dink nie aan homself nie. Hy wil net vir Jesus verdedig!
Maar ons moet versigtig wees om te vining uit die blokke te kom
en so skade aan te rig. Simon Petrus was amper die oorsaak van
‘n bloedbad.
Kyk net na Jesus se reaksie in Matteus 26:52 in Die Boodskap:
“Vinnig keer Jesus hom: “Bêre jou swaard, man. As jy met ‘n
swaard wil baklei, gaan jou vyand jou netnou met sy swaard
doodsteek. Los dit!”
Dan volg hierdie baie belangrike woorde van Jesus om Petrus
tot besinning te lei, in vers 53-54:
“Sê my liewers, hoe het jy My leer ken? Dink jy nie Ek kan My
Vader vra om te kom help as Ek wil nie? Ek sê jou, twaalf groot
groepe engele – selfs meer as Ek wil – staan slaggereed;
reg om te kom help as dit moet. Maar as Ek hulle nou roep, kan
die Skrif mos nie vervul word wat sê wat met My moet gebeur nie.”
Ons moet inderdaad passievol wees vir die Here en sy koninkryk.
Maar ons moet ook onder leiding van die Heilige Gees optree!
Ons kan nie sommer ons eie ding wil doen nie. Wanneer ons te
vining uit die blokke is kan ons meer skade doen as goed.
Ons kan selfs so in die pad wees van wat God wil doen.
Maak seker dat jy onder die leiding van die Heilige Gees optree,
veral wanneer jy oortuig is dit gaan oor God se saak en sy eer.
Dit is presies wat Jesus doen in die moeilikste en donkerste tyd
in sy lewe.
Lydenstyd is ook tyd vir besinning oor die wát en hoé waarmee
ek besig is in my passie vir en dien van die Here.
In my lyding sáám met die Here, ter wille van die koninkryk van God.
Ernest