Ons wil nie ly nie. Ons hardloop weg van lyding af.
Ons sien dit waar Jesus gevange geneem word.
Daar is eintlik ‘n paar onverstaanbare dinge wat hier gebeur.
Selfs Jesus vra vrae aan die klomp wat Hom gevange kom neem.
Matteus 26:55-56: “Jesus draai daarop na die klomp polisiemanne
en vra: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Dink julle julle
kom die een of ander terroris vang? Dag vir dag het Ek daar in die
tempel gesit en vir julle gepreek. Tog het julle my nie kom vang nie.
Nou skielik duik julle hier in die nag op met wapens en al! Maar dit
verbaas My nie, want dit waaroor die profete lank terug geskryf het,
gebeur nou hier voor ons almal se oë.”
Hierdie gebeure vertel eintlik van Jesus se impak in die wêreld!
Jesus was nie bang om oor ongeregtigheid te praat nie. Of om
leiers aan te vat nie. Hy was nie bang om vir hulle te sê dat hulle
wit gepleisterde grafte is nie. Hy lewe ‘n lewe wat gekenmerk word
deur kragtige gebeurtenisse. Hy maak ‘n verskil in duisende mense
se lewens terwyl Hy op aarde leef. En miljoene en miljoene daarna.
Inderdaad is die soldate bang om Hom “sonder handskoene” aan te
vat. En tog is dit wat die profete in die Ou Testament voorspel het.
Dan gebeur wat ons nié sou verwag nie. Ons dink óns sou dit nie
doen nie. Vers 56: “…Terwyl Hy so praat, het sy dissipels gemaak dat
hulle wegkom.” Noudat Hy hulle regtig nodig het, hardloop hulle weg.
Ons kan maklik vinger wys na die dissipels. Maar ons sou waarskynlik
ook onsself uit die voete gemaak het. Wat sou jy gedoen het. Dink mooi.
Wat doen ons vandag nog wanneer ons regtig die grond vir Jesus
moet staan. Ons bly stil as iemand ‘n vuil grap vertel, of ons lag saam.
Ons ry verby nood. Ons stap verby ongeregtigheid. Ons bly stil wanneer
die Here se heilige Naam misbruik word. Dit is nie einlik minder as die
dissipels wat wegvlug uit die situasie nie. Dan draai ons ook maar ons
oë weg. Maar die uiteinde is dieselfde. Jesus staan alleen.
Hoekom kies ons maklik die wegdraai en weghardloop, eerder as die
staan vir dit waarin ons regtig glo. Dit is daarom in hierdie lydenstyd
ook tyd vir verootmoediging. Verootmoedig jou voor die Here.
En staan jou grond, jou geloof en belydenis, ter wille van die koninkryk
van God. Hou op om weg te hardloop wanneer jy dink jy gaan ly…
Ernest