Met Petrus het die haan letterlik gekraai nadat hy
Jesus drie keer verloën het. Hoeveel keer “kraai die haan”
nie in ons eie lewe nie…weer en weer…

Eers het een vrou vir Jesus gesê: “Jy is mos een van die
vriende van Jesus…” Toe het ‘n tweede vrou gesê:
“Julle is reg! Hierdie man is een van Jesus van Nasaret se
vriende”. Dit het Petrus laat sweer dat hy Jesus nie ken nie.
Toe kom staan ‘n groepie mans by Jesus en sê hy praat met
dieselfde aksent as Jesus en moet een van sy vriende wees
daar van Galilea af. Dit het Petrus laat vloek in sy erns om
te ontken dat hy ‘n vriend van Jesus is. Weer sweer hy dat
hy Jesus nog nie eers ontmoet het nie!

Dan sê Matteus 26:75: “Juis toe kon ‘n mens die gekraai
van die haan in die vroeë oggendure hoor wegsterf.
Petrus het ook die haan gehoor. Die woorde van Jesus het
hom te binne geskiet: “Voor die haan kraai, sal jy drie maal
sê dat jy My nie ken nie.” Hy kon toe nie langer daar bly nie.
Buite het die trane oor sy wange gestroom.”

Hierdie is een van die hartseerste verhale oor ‘n volgeling
van Jesus. Dit maak ons juis hartseer omdat ons besef hoeveel
keer ons self Jesus verloën. Ons onthou hoe Petrus saam met
Jesus op die water geloop het, en hoeveel kere ons ook gevoel
het ons loop op die water saam met Jesus. En dan bedink ons
onsself om Petrus te veroordeel. Petrus se lewe het uitmekaar
geval toe die nuus kom dat Jesus gaan sterwe. Ons weet Jesus
het opgestaan en leef! Petrus het dit nog nie geweet nie.
Petrus se lewe was in gevaar. Ons beleef nie so ‘n bedreiging
omdat ons Jesus volg nie. Petrus het in die hitte van die oomblik
opgetree.

Ons laat ook dikwels vir Jesus in die steek in die hitte van die
oomblik. Ons draai ook ons kop weg. Ons loop paaie wat Jesus
nie sou loop nie. Ons sê goed wat ons nie moet sê nie. Veral as
iemand voor ons indruk in die verkeer. Ons tree ook maar soos
Petrus op. Die haan kraai gereeld in ons lewe. En soos met Petrus
vind ons dat die trane van teleurstelling en frustrasie oor ons
wange rol.

Ons is kort voor Goeie Vrydag…en die kruis van Jesus.
Hy het reeds betaal vir al die kere wat die haan in ons lewe kraai.
Die duurste prys. Lydenstyd is tyd van verootmoediging by die Here.
Buig voor Hom in verootmoediging en plaas opnuut jou hele lewe
onder beheer van die Heilige Gees. Galasiërs 5:25 sê:
“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”

Ernest