Ons leef tans in moeilike tye.
Vir baie mense is dit baie moeiliker tye as vir ons,
as gevolg van hulle omstandighede. Daarom vra
hierdie tye van ons as gelowiges baie deernis vir
ander mense.

Ons leef ook nou in die Lydenstyd van die Christelike kerkjaar.
Die tyd waarin ons in verootmoediging nadink oor Jesus
Christus se lyding ter wille van ons redding. Wanneer ons oor
die lyding van Christus nadink en besin, dan besef ons dat dit
die moeilikste tyd van sy lewe hier op aarde was. Sy lyding tot
die Godverlatenheid en sterwe aan die kruis. Dit plaas ook ons
lyding in hierdie wêreld in perspektief.

Ons besef ook: Deel van ons roeping en lewe in hierdie wêreld
is om ter wille van die Here en God se koninkryk te ly.
Dink maar aan ‘n teks soos Filippense 1:29:
“God het julle die voorreg gegee om Christus te dien,
nie alleen deur in Hom te glo nie,
maar ook deur vir Hom te ly.”

Die gedeelte oor Jesus se lyding in die Woord van God is nie
‘n maklike of gemaklike deel om saam te lees en te deurdink nie…
Ons word gedwing na die werklikheid daarvan dat ons verlore was,
en wat dit God gekos het om ons te red. Die duurste prys!
‘n Prys wat in geen wêreldse terme of eenhede betaal kon word nie.
Dit laat ons nadink daaroor dat ons ook soos ‘n Judas opgetree het,
of soos ‘n Petrus optree…
Ons moet nie oordeel en veroordeel nie. Dit is net God se genade
wat ons soos ‘n stuk brandhout uit die vuur geruk het.

Kom ons gebruik hierdie moeilike tye waarin ons leef om ons te
veroormoedig voor die Here in terme van ons eie lewe.
Gebruik elke stukkie nuus oor ons omstandighede as stof vir gebed.
Praat gedurig met die Here oor dit wat Hý vir jou wil sê daardeur,
eerder as om maar net in ‘n koor saam te sing met ‘n wêreldse opinie.
Leef eerder met die deernis van die Here vir mense, in hierdie tyd,
as met oordeel en vooroordeel.

Die straf wat vir ons die vrede moes bring was op Hom….
Deur Jesus se wonde het daar vir jou genesing gekom.
Ly saam met die Here, in jou deernis vir mense…
Bid vir hierdie genesing van die Here by álle mense…

Ernest