In die Lydenstyd van die Here Jesus het Hy kragtige
uitsprake gemaak om ons te dra in tye waarin ons ly,
ter wille van Hom en sy koninkryk.
In sy diepste lyding bevestig die Here Jesus aan ons
Wie Hy is en wat Hy doen! Die wêreld dink hy kan met
Jesus maak wat hy wil. Vir twee dae lank het die Joodse
Raad ‘n komplot uitgewerk om van Jesus ontslae te raak.

Die ironie is dat “die kerk” gedink het hulle moet Jesus keer.
Hy gaan te ver. ‘n Mishandelde Jesus staan voor die Raad.
Allerhande stories word uitgedink om Jesus te beskuldig.
Die een so vals soos die ander. Jesus reageer nie eers op hierdie
stories nie. Hy swyg. Selfs die hoëpriester tree toe tot die
ondervraging. Wanneer Jesus steeds swyg, dan vererg hy hom.
Matteus 26:63 sê: “Vererg sê die hoëpriester: “Ek beveel jou op
gesag van God, sê vir ons: Is jy die Christus, die Seun van God
– ja of nee?”
Vers 64 sê dan hierdie waarhede om elke dag te onthou:
“Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self.
Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien.
Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die
mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.”

Dít was die waarheid! Tussen al die leuens van die wêreld deur.
Hierdie is die waarheid. Ons wéét dit. Jesus het opgestaan en sit
inderdaad aan die regterhand van God. Ons bely dit en leef daaruit.
Ons wéét ook Hy kom weer. Ons leef met hierdie toekomsverwagting!

Die hoëpriester was woedend en het sy klere geskeur. Hy het
uitgeroep dat Jesus moes sterf. Die Joodse Raad het saamgestem.
Toe begin die vernedering. Ons het dit al hoeveel keer gelees.
Verootmoedigend worstel ons deur dit. Dit was vir ons, vir mý.
Daar is tye in ons lewe wanneer ons meedoen aan die vuiste op Jesus.
Wanneer ons soos Petrus die Here verloën in “moeilike omstandighede”.
Kom ons draai verootmoedigend om. Kom ons draai ons lewens om.
Kom ons maak seker dat ons nie oordeel en veroordeel nie.
Kom ons leef met deernis vir ander mense. Kom ons verteenwoordig
niemand anders nie as net vir Jesus, by alle mense.

Ons wéét Wie Hy is, en ons lééf vir Hom, met die wete dat Hy self
gesê het, in sy diepste lyding gesê het:
“Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun
sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het.
Julle sal Hom op die wolke sien kom.”

Ernest