Tydens Paastyd vier ons nagmaal. Sommige gemeentes
op Goeie Vrydag, en ander op Paassondag.
Dink net daaraan. Ons eet die brood van die lewe in die
skadu van die kruis. Daardie laaste paasmaaltyd van Jesus
en sy dissipels kort voor sy dood, was die begin van ‘n
nuwe soort ete!

Jesus het die paasmaal ingeruil vir die nagmaal.
Een ete wat vertel van God se redding uit Egipte, is toe
vervang deur ‘n ander ete wat vertel van God se redding
wat sy Seun aan die kruis vir ons bewerkstellig het.
Die paasmaal het heengewys na die paaslam se bloed aan
die deurkosyn wat redding vir die Israeliete bewerkstellig het.
Die nuwe ete van Jesus het weer gewys op die bloed van die
Paaslam, met ‘n hoofletter, wat eens en vir altyd vir sondaars
gevloei het om hulle met God te versoen.
Ons is teruggebring na God toe!

Jesus se maaltyd met sy dissipels kort voor sy kruisiging het
hoop vir die wêreld gebring. Dit vertel van sy eie liggaam wat
vir sondaars gebreek word, en van sy bloed wat om ons ontwil
gevloei het. Die nagmaal praat die taal van hoop en redding,
van nuwe lewe in die brood en wyn. Hierdie ete getuig dat
elkeen wat vandag nog die uitnodiging na Jesus se maaltyd
aanneem, saam met Hom kan feesvier oor die nuwe lewe wat
Hy bring!

Die nagmaal is ‘n ete wat “praat”! Dit vertel van Jesus se lyding.
Maar veral ook van Jesus se redding! Dit vertel van Jesus wat
ons skuldlas op Hom geneem het, en dit wys ook vorentoe na
die dag wanneer ons almal saam met Hom gaan feesvier by die
maaltyd van die Lam! Dit verseker ons juis opnuut weer in hierdie
moeilike tye dat ons verlede, ons hede, en ons toekoms veilig
in God se hand is!

Gaan sit aan saam met Jesus, en vier die nuwe lewe in Hom!

Ernest