Psalm 22:24 sê:
“Julle wat die Here dien, prys Hom! Vereer Hom!...
Betoon Hom eerbied!...”

 

Gewoonlik loop die pad van lof so:
Gelukkige gebeure, lei tot gelukkige hart,
lei tot danksegging, lei tot lof aan God.
Maar in hierdie Psalm vind ons die logika van opregte
en naakte geloof onder druk:
Haglike omstandighede, lei tot beangste hart,
lei tot skuiling by God, lei tot lof aan God.

 

Uit die psalm is dit duidelik dat Dawid in groot nood is.
Vyande omring hom en sy lewe is in gevaar.
Hy pleit by die Here om hom te red
“uit die bek van die leeu,
en tussen die horrings van die wilde beeste uit.”
Daar is nog nie redding in sig nie.
Maar juis dit maak dit merkwaardig dat daar al lof is!
Dawid sê alreeds:
“U het my gebed verhoor!
Julle wat die Here dien, prys Hom!”

 

Dit is ware lofprysing.
Dit is meer as dinamiese musiekbegeleiding.
Egte lofprysing is geloofstaal, diep uit die hart van die gelowige.
Dit kan selfs uit die haglikste omstandighede opklink.
Lofprysing is nie afhanklik van aardse omstandighede nie.
Ons maak dit ongelukkig afhanklik van ons omstandighede.

 

Met lofprysing beweeg jy in die dimensie van die ewigheid in.
Jy vereer die ewige God omdat Hy God is.
Jy vereer God vir Wie Hy is.
Dit is nie ‘n voorgee dat die slegte ding wat in my lewe gebeur het,
eintlik goed is nie.
Die slegte ding in my lewe bly vir my sleg.
Maar God is goed, en ewig, en betroubaar.

 

Ware lofprysing is ook die entoesiastiese en gelowige oordrag van
alles wat ons van God weet en van Hom ervaar.
Lofprysing praat oor God en getuig van God.

 

Loof die Here ook in jou nood, en uit jou nood!

 

Ernest