Gelukkig kyk ons terug, deur die opstanding van Jesus,
na die kruis. Wat ‘n voorreg! Ons weet die kruisiging
het ‘n einde wat lewe bring! Met Jesus se dood kom
die draaipunt.
Matteus 27:51: “Net toe het die gordyn wat die vertrekke
in die tempel verdeel het, middeldeur geskeur van bo na
onder. Die aarde het gebewe en rotse het verkrummel.”
Hierdie gordyn het bekend gestaan as die voorhangsel.
Dit is seker een van die grootste moment van Jesus se
sterwe aan die kruis. Dit beteken vir ons as mense só baie.
Die skeiding wat daar tussen God en die mens was, is nou weg.
Vir die eerste keer mag die mens by God uitkom.
In die Ou Testament kon net die hoëpriester in die Allerheiligste
van die tempel ingaan. Die priesters het ook in die heilige van
die tempel offers gebring namens die volk.
Nou, met die skeur van die gordyn, het almal vrye toegang tot
God gekry! Hebreërs 10:19-20 beskryf dit so:
“Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang
tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei.
Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen,
dit is deur sy liggaam.”
Ons het nou vrye toegang tot God!
Daardie dag by die kruis was daar twee groepe mense. Die wat
gesmag het na toegang tot God, en die wat nie belang gestel het
in toegang tot God nie. Die wat nie belang gestel het nie, het
verseker dat Jesus gekruisig word. Maar daar was ook hulle wat
geweet het wie Jesus is. Soos die vroue waarvan Matteus 27:55-56
praat: “Heelwat vroue het op ‘n afstand gestaan en kyk. Hulle het
Hom van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg. Onder hulle was Maria
Magdalena, Maria, die ma van Jakobus en Josef, asook die ma van die
Sebedeus-broers.” Hulle het nie presies geweet wat sou van nou af
gebeur nie...maar hulle het hoop gehad. Hulle het seker iets onthou
van die tempel wat weer in drie dae opgebou sou word. Twee groepe.
Die wat seker maak dat Jesus gekruisig word om Hom uit die pad te kry,
en die wat te midde van seer en swaar vrede gehad het.
Hulle wat smag na toegang tot God.
By watter groep staan ons? Dalk moet ons net weer dink oor waar ons
staan. Oor hoe ons lewe lyk. Ons het deur die bloed van Jesus vrye
toegang tot God, en ons wéét dit. Die aangehaalde Hebreërs teks sê
“...op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei.” Die vraag is: Leef ons op
hierdie nuwe weg? Of leef jy steeds op die ou weë...? Hebreërs 3:7-8:
“Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie...”
Kom ons verootmoedig ons voor die Here.
Ernest