Die dood word oorwin! Opstandingsdag!
Oorwinningsdag. Paasfees! Lewensfees!

Matteus 28 vertel van die vroue wat na Jesus se graf
toe gegaan het. Vers 2 sê: “Hulle was net by die graf toe
die aarde skielik begin bewe. Verskrik kyk hulle op en sien
‘n engel van die Here uit die hemel na hulle toe kom. Hy rol
toe die groot klip voor die graf weg en gaan sit daarop.”
Die engel praat toe met die vroue. Vers 5-7: “...Moenie vir my
bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus, die Een wat hulle gekruisig
het. Hy is nie meer hier nie. Hy het mos self gesê Hy gaan opgewek
word. Presies dit het gebeur! Maar staan nader; kom kyk self na die
plek waar Hy gelê het. As julle klaar gekyk het, maak so gou as wat
julle kan en gaan vertel vir sy dissipels dat Hy uit die dood opgewek
is. Sê vir hulle Hy is op pad Galilea toe. Julle almal moet Hom daar
gaan kry. Dit is my boodskap aan julle.”

Jesus het opgestaan en die dood oorwin!

Ons moet weer mooi oordink wat hier gebeur het. Hierdie gebeure
is die hoogtepunt van ons geloof en wat God vir ons doen!
Hier is die lyn wat gespan word tussen die Christelike geloof en alle
ander godsdienste. God het die dood oorwin! Letterlik!

Dit herinner aan Jesus se uitspraak in Johannes 11:25:
“Ek is die Opstanding en die Lewe.
Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.”

Dink weer mooi hieroor: Christus het opgestaan,
maar nié ons sonde nie;
dié het saam met Hom gesterf. Die stráf op daardie
sonde is vir ewig in Christus se leë graf begrawe!

Daarom het Johannes van Apamea alreeds in die vyfde eeu
hierdie treffende uitspraak gemaak:
“Die heel beste bewys van die opstanding van Christus is
wanneer verloste sondaars die opstandingslewe begin leef!”
Lééf! Want die Here lééf! Lééf!... vir Hom saam met Hom!

Ernest