Matteus 28:8: “Die vroue het nie op hulle laat wag nie.
Hulle hardloop toe so vinnig as wat hulle kon huis toe om
vir die dissipels te gaan vertel. Van skrik het hulle bene nog
maar gebewe, maar hulle harte het van pure blydskap vinnig
geklop.” Die 1983 sê “...bang maar baie bly...”! Voel net die
energie van ware lewe! Ervaar die opgewondenheid!
Die Here lewe! Jesus het uit die dood opgestaan!
Is dit dan nie wat Hy gesê het gaan gebeur nie!
En dan gebeur daar skielik iets...vers 9, in Die Boodskap:
“Terwyl hulle afsit huis toe, kom hulle skielik vir Jesus self teë.
Daar het Hy gestaan.” Wow! Hier is Hy werklik voor hulle!
Hulle probeer nie sin maak nie. Hulle vra nie vrae nie. Vers 10:
“Goeiemôre! Het Hy gesê. Die vroue was totaal uit die veld geslaan.
Hulle het voor Jesus neergeval en sy voete vasgegryp. Woorde van
aanbidding het oor hulle lippe gestroom.”
Wat sou ons nie alles vandag saam met hulle in aanbidding wil
uitroep terwyl ons voor die lewende Here buig nie! God is groot!
God is almagtig! God is oorwinnaar! Jesus lewe! Prys sy Naam!
Ons lewe!
Dan volg hierdie uiters belangrike woorde van die Here.
Die eerste woorde wat Hy vir hulle sê wanneer hulle Hom as
lewende Here aanbid: “Jesus sê vir hulle: “Moenie bang wees nie.”
– vers 10.
Moenie in vrees lewe nie. Vir niks en niemand nie. Niemand, niks,
kan die ware lewe uit jou hand ruk nie. Niemand, niks, kan jou uit
God se hand ruk nie. Nie die grootste bedreiging in die wêreld kan
dit doen nie. Glo dit en hou daaraan vas met alles in jou wese.
Jesus het die dood oorwin en kom sê nou vir jou:
Moenie bang wees nie!
Dink maar net terug aan wat die profeet Jesaja reeds in Jes. 40:9-11
gesê het van die God wat jy aanbid: “Moenie bang wees nie...
Hy is die Magtige, Hy regeer...Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde:
Die lammers maak Hy bymekaar...en Hy dra hulle teen sy bors...”
God self versorg jou en dra jou teen sy bors.
Nou sê Jesus weereens vir jou: “Moenie bang wees nie”.
En Hy sê dit as die opgestane Here Jesus Christus! Die lewende God!
Moenie bang wees nie!
Ernest