WAARHEID HEERS OOR LEUEN
Vir die staat en die “kerk” was dit ‘n groot slag dat Jesus uit die
dood opgestaan het. Hulle moes so gou as moontlik hierdie
waarheid toesmeer. Die moeilikheid met hierdie waarheid het al
in die wêreld begin die dag toe Jesus opgestaan het. Die wêreld wil nie
met hierdie waarheid saamleef nie. Die wagte vertel wat gebeur het.
Die Joodse leiers hou dadelik ‘n noodvergadering. Hulle kom ooreen om
dit wat gebeur het stil te hou. Hulle bied ‘n aardige bedrag geld aan om
die soldate stil te koop. Hulle moes sê dat hulle aan die slaap geraak het
en dat Jesus se liggaam gesteel is. Hulle moet nie verder bekommer nie.
Die Raad sal vir alles sorg.
Matteus 28:15 sê: “Die soldate het die omkoopgeld gretig gevat.
Hulle het die storie wat die Joodse leiers versin het oral gaan rondvertel.
Die Jode glo die storie tot vandag toe nog.”
Vandag nog sal die wêreld enige iets doen om die opstanding van Jesus
te ontken. Sedert die opstanding van Jesus uit die dood is die Bose besig
om veld te verloor. Al lyk dit nie in die wêreld so nie.
Jesus sê in Johannes 10:27-29 hierdie uiters belangrike woorde:
“My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle
die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie.
Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het,
is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die
Vader ruk nie.” Die Bose verloor deurgaans veld. Hy ly groot nederlae.
Die dood is oorwin. Die Bose is oorwin. Die wat deur die eeue aan God
behoort het, is by God. En die wat hul lewe in die toekoms vir die Here
gaan gee is by God. Die Bose hardloop springlewendig rond op aarde,
maar hy skarrel, want hy het reeds die stryd verloor!
Kinders van God kan nie uit God se hand geruk word nie!
Meer nog! Jesus bid vir ons!
Wanneer Hy in Johannes 17 vir sy dissipels bid, dan bid Hy in vers 20:
“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle
woorde tot geloof in My sal kom.” Dit is ons!! Die ware kerk!
Verder bid Jesus in vers 21: “Ek bid dat hulle almal een mag wees,
net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees,
sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” Wow!
Deur die eenheid van die kerk, hulle wat waarlik glo, sal meer en meer
in “die wêreld kan glo dat U My gestuur het”! Die Bose kan dit nie keer
dat hulle wat aan God behoort tot bekering kom en lééf nie!
Ons moet hierdie waarheid onthou en oorwinnend die opstandings-lewe
gaan leef, elke dag! So keer ons dat die Bose sy grondgebied vergroot.
Deur die eeue en vandag nog wil die duiwel die waarheid van die
opstanding van Jesus toesmeer. Maar niks of niemand kan die boodskap
stop nie. Die leuen kan die waarheid nie uitvee nie. Jesus het opgestaan!
Verkondig dit met jou opstandings-lewe in en deur Jesus Christus!
Ernest