Christen gelowiges, kinders van God, is nooit alleen nie.

Ons heg gewoonlik baie waarde aan mense se laaste woorde.
Ons kan in detail onthou wat iemand gesê het voor hul dood.
Ons beleef dit as intense oomblikke. Ons heg dan ook groot
waarde daaraan. Dit is asof dit permanent in ons geheue is.

Daarom moet ons ook met groot aandag luister na Jesus se
heel laaste woorde op aarde. Nadat Hy uit die dood opgewek is
en op die punt is om hemel toe te vertrek, praat Hy vir oulaas
met sy dissipels. Hy beloof dat Hy by almal wat in Hom glo sal bly
tot aan die einde van die wêreld. Matteus 28:20:
“Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Dit is kragtige woorde van bemoediging vir Jesus se volgelinge
wat nou hier op aarde agterbly. En vir ons! Ons wat nou hier as sy
volgelinge leef. Jesus is weg, en tog by ons. Ons sien Hom nie meer
met die blote oog nie, maar Hy is nou elke oomblik by ons.
Dit is nie asof Jesus sy werk afgehandel het waarvoor Hy aarde toe
gekom het nie. Allermins! Jesus se werk gaan juis voort, deur ons
almal wat in Hom glo!

In hierdie voortgaan van sy werk, laat Hy ons nooit alleen nie.
Skep moed en leef met hierdie waarheid van dag tot dag.
Jy is nooit alleen nie en staan nooit alleen in Jesus se saak nie.
Ervaar sy teenwoordigheid deur die leiding van die Heilige Gees in
jou lewe. Voel sy hand op jou skouer deur die troos en die krag van
die Heilige Gees. Jy is regtig nie alleen nie. Maar dit gaan nie net oor
jou nie. Jy is nie alleen nie sodat jy kan voortgaan met Jesus se roeping
en sy opdrag aan jou om sy gestuurde in die wêreld te wees.
Gaan verteenwoordig Hom!

Ernest