GAAN MAAK ‘N VERSKIL
Voordat Jesus by sy laaste groot opdrag kom,
kwalifiseer Hy eers Wie Hy is. Matteus 28:18:
“...God het aan My al die mag gegee wat daar is.
Niemand is magtiger as ek nie.”
Hierdie is baie belangrike woorde vir ons as Jesus
se volgelinge. Want wat Jesus nou hierna gaan sê,
kom van God af! Hiermee sal ons dus baie erns
moet maak. Dan gee Jesus die laaste opdrag aan
ons in vers 19: “Ek wil hê julle moet iets vir My doen:
Die wêreld is nou julle sendingveld. Gaan oral na almal
toe en daag hulle uit om My sonder enige voorwaardes
of verskonings te volg.” Oral. Na almal toe.
Dit is ‘n eenvoudige boodskap. Gaan vertel die mense
van God en moenie dit vir jouself hou nie.
Dit is ‘n opdrag en ‘n groot verantwoordelikheid.
Waar ons woon, werk, ontspan, oral. Doen dit met jou
gawes, met joú manier van doen en leef. Wys dat die
lewende God jou Redder is en aanbid Hom met jou hele
lewenswyse.
Die opdrag gaan ook verder. “Wanneer hulle bereid is om
My met hulle hele lewe te volg, moet julle hulle doop op
gesag van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. So sal
julle hulle inlyf om deel van God se familie te wees.
Maar dan is julle nog nie klaar nie. Leer hulle en lei hulle
dan in alles wat Ek vir julle geleer het. Vertel hulle hoe
belangrik dit is om aan My gehoorsaam te wees en te doen
wat Ek vra.”
Ons moet self groei en ook ander mense lei tot geestelike
volwassenheid. God bring mense oor jou pad wat van jou
afhanklik is om Hom te ontmoet en vir Hom te leef.
Jy moet die verantwoordelikheid hiervoor aanvaar.
Juis omdat Jesus weet dit sal nie altyd maklik wees nie
bemoedig en versterk Hy ons en rus Hy ons toe met hierdie
woorde van vers 20: “...En wees verseker: Ek verwag nie dat
julle dit alleen moet doen nie. Elke dag, tot met die wederkoms,
sal Ek self by julle wees.” Die Here wil dit deur jou doen!
Wat wil jy méér hoor as dit, of meer hê as dit?
Gaan doen dit net...in gehoorsaamheid!
Ernest