“Genade en vrede vir julle…” – Filippense 1:2.
Paulus se nuwe lewe het begin op die pad na Damaskus.
Daar ontmoet hy Jesus van aangesig tot aangesig. Dit is toe
hy die Een in die oë moes kyk wie se volgelinge hy vervolg.
Hy het dadelik al sy godsdienstigheid wat hy so fanaties
beoefen het laat staan en die nuwe lewe van die evangelie
van Jesus Christus begin leef. Dit sou nie maanskyn en rose
wees nie. Dit sou baie swaarkry en lyding bring. Nogtans
was dit die beste besluit wat Paulus in sy lewe kon neem.
Dit is die enigste besluit vir ware lewe! Dit sien ons regdeur
die Filippense brief.
Wanneer Paulus die brief aan die Filippense skryf sit hy in
die tronk. Sy toekoms is in aardse terme pikdonker.
Hy weet nie of hy vrygelaat gaan word nie, en of hy die
doodstraf gaan kry nie. Het God hom hier in die gevangenis
vergeet? Vroeër het God aardbewings gestuur en tronkdeure
vir hom oopgemaak. Nie nou nie. Het hy iets verkeerd gedoen?
Nee. Juis nie!
Oor sy geloof en sy ywer vir die boodskap van Jesus Christus
sit hy in die tronk. Maar God het hom nie vergeet nie.
Hy begin juis sy brief aan die Filippense met die vrede van God
wat hy ervaar. En die genade van God. Kyk net hoe treffend
groet hy die gelowiges met dit wat ‘n realiteit in sy eie lewe is:
“Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus
Christus!”
In sy moeilike omstandighede gaan hy verder as net die groet.
Hy bid ook vir hulle. Hy sê in vers 4: “Ek dank my God elke keer
as ek aan julle dink.” Vandag nog is dit uit hierdie brief die
boodskap van God aan óns. So groet God ons!
Ontvang vandag God se vrede. Jesus het ons na die kruis gegroet
met “vrede vir julle”. Stel jou lewe oop vir sy vrede te midde van
jou omstandighede. Sy vrede keer dat jy in hooploosheid wegsink.
Augustinus van Hippo het gesê:
“God het my aangeraak en sedertdien brand ek van verlange na
sy vrede.” Smag na sy vrede, ontvang dit, en leef daaruit!
Ernest