Bekering bring pyn en genesing. Paulus se bekering was pynlik.
Die oomblik daar op die Damaskus pad, toe hy voor Christus
gestaan het, het sy eie lewe en ideale in duisend stukke op die
grond geval. Alles wat vir hom belangrik was het in duie gestort.
Hy was gekonfronteer met sy ware self. In God se lig het die
donkerte in sy eie lewe sigbaar geword. Hy het ontdek dat sy
hele lewe ‘n gejaag na wind was, weg van God se wil!
En hy het juis so fanaties “God se wil” gedoen, om Christene te
vervolg, hierdie nuwe beweging en bedreiging vir die ware geloof...

Ware bekering was vir hom uiters pynlik. Hy het ontdek dat hy
juis nie God se wil doen nie. Dit is ook wat in ons selfondersoek
gebeur. Ons ontdek pynlik dat ons gedink het ons doen God se wil.
En nou moet jy juis daarmee in die teenwoordigheid van God staan
en ontdek jy doen nié sy wil nie. Jy dien jouself. Net maar jouself.
Met al jou redenasies, oordeel en vooroordeel oor ander mense.

Maar daar lê ‘n uiters belangrike draaipunt in ware bekering.
Paulus sê iets daarvan in Filippense 1:12: “Ek wil hê julle moet
weet...dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die
evangelie bevorder het.”
Elke ware bekering is ook ‘n genesende ervaring. Dit is baie seer ja.
Dit bring jou met ware berou op jou knieë voor God. Maar dit is ook
die oomblik wat jy die lewende water by God se fontein begin drink.
Die water van nuwe lewe wat ewige dors les. Jy beleef en is in die
reddende teenwoordigheid van die Here.
Hy wat self sy lewe stukkend laat breek het aan die kruis ter wille
van ons. Hy dra jou nou terug na die hemelse Vader, na die woonplek
wat Hy vir jou voorberei. Jy is nou in die permanente greep van
God se genade.

En wat gebeur met jou? Dit wat met Paulus gebeur het!
Jý dra nou die evangelie uit na die wêreld! Jý kan en wil nie anders nie!
Daar waar jy leef, leef en getuig jy vir die Here! Openlik, met oorgawe!
John Stott het gesê:
“Dit is onmoontlik om deur God se Gees bekeer te word sonder om óók
tot jou medemens bekeer te word. Wie gevoelloos by sy medemens in
nood verbystap, het goeie rede om te wonder oor sy eie saak met God.”

Ernest