Paulus se ontmoeting met die Here het sy hele lewe
radikaal verander. Sy hele lewe is op die Damaskus pad
met nuwe inhoud gevul. Hy was inderdaad ‘n nuwe mens.
Val hierdie dag af het Paulus net een lewensdoel gehad.
Een nuwe droom. Een reuse ideaal. Om elke dag vir die res
van sy lewe vir die Here te lewe. In Filippense 1:21 deel hy
sy droom met ons, sy lewens filosofie: “...want om te lewe,
is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”
Christus is nou die sentrum van Paulus se lewe. Alle vorige
drome is opsy geskuif. Niks anders het nou méér saak gemaak
as die nuwe lewe vir Christus nie.
Het jy groot ambisie en ideale vir jou lewe? Dit is reg so!
Maar wat van jou geloof in Christus as jou Here? Hoe pas Hy
daarby in? Is jou grootste droom dat Christus jou sal nuut maak,
en dat jy as nuwe mens jou ambisie en ideale sal uitleef?
Gaan Hy jou hele lewe wees? Sal jy vir Hom leef, en vir Hom sterf,
ook aan jouself sterf? Dink weer oor die sin van dit waarmee jy
besig is? Oor wie gaan dit eintlik?
William Temple het gesê: “Christus is nie ons helper nie, sodat ons
óns ideale en behoeftes bevredig nie...Hy is ons lewe!
Christus werk nie saam met ons nie...Hy werk déúr ons!”
Hy werk regtig déúr ons!
Franciscus van Assisi het dit treffend so beskryf, en tot vandag
toe nog moet dit jou nie net aangryp nie maar jou in die Naam
van die Here die lewe laat vásgryp om dit waarlik te lééf:
“Broers, julle is Christus vir die wêreld. Christus het geen ander
hande op aarde as julle hande nie, om mee aan te raak en te
vertroos en te genees. Hy het geen ander voete nie, as julle
voete, om mense op die pad van die waarheid te lei. Hy het
geen ander arms nie, as julle arms, om die verstrooides en die
verdwaaldes nader aan Hom te trek en hulle te omhels. Hy het
geen ander tong as julle tong nie, om aan ‘n lydende mensdom
die boodskap van redding en rus in Christus mee te deel.
Broers, dit is verstommend maar waar:
Christus het gekies om déúr ons te werk om sy liefde,
deernis en sorg na die wêreld te bring.”
Jesus sê: “Soos die Vader My gestuur het...stuur Ek julle...”
Ernest