“Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie,
maar ook aan dié van ander.” Filippense 2:4.
Ons dink meestal net aan onsself. Dit is ons basiese
oorlewingstrategie. Eerste, tweede en derde...dink ons net
aan onsself. Ander mense staan agter ons in die tou van ons lewe.
Selfs is die kerk vier selfsug hoogty. Ons sukkel om onsself te kruisig.
Gelowiges baklei oor en weer oor voorkeure of afkeure wat eintlik
heel dikwels nie met ware aanbidding te doen het nie.
Paulus roep ook die Filippense op om nie net aan hulleself te dink nie.
Hy gee ook riglyne hoe ons dit moet regkry. Vers 3 sê dat ons niks uit
selfsug of eersug moet doen nie. Let op: Niks! En dan hierdie baie
belangrike res van die vers: “...maar in nederigheid moet die een die
ánder hoër ag as homself.” Ons moet respek vir ander mense hê deur
hulle altyd hoër en belangriker as onsself te ag. Nou weet ons;
hierdie is nie maklik nie. Ons hoef maar net te dink hoé ons oor ander
mense dink. Ons weet dat ons baie gereeld hierdie toets dop. Ons plaas
mense in volgorde van belangrikheid in terme van ons siening.
En dan staan hulle ook nog in elk geval agter ons in die ry.
Die woord in vers 3 wat ons hoegenaamd nie moet miskyk nie is...
nederigheid!
Vers 3 sê ons kry dit eers reg om ander hoër as onsself te ag as ons
nederig is!
Augustinus van Hippo het oor nederigheid gesê: “As julle my vra wat
die eerste kenmerk van opregte geloof is, sal ek sê die eerste, tweede
én derde ding is nederigheid.”
Ons moet regtig opreg bid dat ons nederig sal wees deur die genade
van God en onder leiding van die Heilige Gees. Want ons is van nature
hoogmoedig.
Nederigheid in nie iets wat onsself met eie wilskrag kan bereik nie.
Ander mense kan jou ook nie nederig maak nie. Daar is ook nie
spesifieke dade wat ‘n mens kan doen, en dit dan “nederigheid” noem
nie. Nederigheid kom van God af en kleur alles wat jy doen.
Dit is ‘n kenmerk van ‘n ware Christelike leefstyl onder beheer van die
Heilige Gees. Dit is ‘n gawe van God waarvoor ‘n mens moet vra.
Bid regtig daarvoor en leef in die eerste plek nederig voor God.
Nederigheid maak jou gelukkig, maar nie noodwendig gewild nie.
Oswald Chambers het gesê: “Nederigheid behoort nie iets te wees
waarna jý streef nie. Dit moet die onbewuste resultaat wees van ‘n lewe
in die regte verhouding met God.”
Dink...aan ander...in nederigheid!
Ernest