Dieselfde gesindheid moet in ons wees, wat daar ook in
Christus Jesus was. Dit is spesifiek wat Filippense 2:5 sê!
Dieselfde gesindheid as Jesus! Ons moet leef soos Jesus
geleef het. Soos Hy oor dinge gedink het, en gevoel het,
en gedoen het, so moet ons ook oor dinge dink, voel en
doen, net soos Hy! Wat was sy gesindheid?
Filippense 2:6-11 beskryf hierdie gesindheid deur te sê
Wie Jesus is en wat Hy gedoen het, en wat die gevolg
daarvan is! Lees dit weer in die Nuwe vertaling (1983).

Die Boodskap stel dit so:
“Jesus staan in status op gelyke voet met God.
Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy teen elke prys
aan dié status wou vasklou nie. Toe die tyd ryp was, het Hy
die status en eer wat Hy gehad het, eenkant toe geskuif.
Hy het ‘n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg
was nie, het Hy sommer ‘n gewone mens geword wat op die
oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie
mense niks gedink het nie. As mens onder mense het Hy die
pad van vernedering nog verder geloop.
Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring.
Wat ‘n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy
het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop.
Maar God het Hom uit die diepte van vernedering gehaal en
Hom die hoogste eer gegee wat God iemand kan gee.
Nou is niks en niemand belangriker as Hy nie en niks en
niemand kan ook belangriker as Hy wees nie.
God het self so besluit. Net mooi almal sal voor die grote
Christus moet buig, maak nie saak wie hulle is of waar hulle
vandaan kom nie. Selfs dié wat lankal dood is, sal voor Jesus
moet buig. Hulle sal almal met oortuiging vir mekaar sê:
“Jesus Christus is die Here.” So sal almal ook besef hoe
groot en belangrik God die Vader is.”

Dit was Jesus se gesindheid, en dit is Wie Jesus nou is!
Ook ons moet onsself prysgee ter wille van Jesus,
ons kruis opneem en Hom volg!
Dieselfde gesindheid in ons...as in Jesus!

Ernest