Na Jesus se vernederende kruisdood, het God Hom
verhoog en Hom oorlaai met hemelse eer. Deel van
Christus se verhoging was die ontvangs van ‘n nuwe naam.
Die nuwe ere Naam. Die koninklike titel. Nou is sy Naam:
Here!
Hierdie Naam is met soveel eer belaai dat alle mense
uiteindelik twee dinge gaan doen: Hulle gaan buig voor die
koninklike mag van hierdie Persoon en Naam.
Hulle gaan ook met hulle tonge bely dat Jesus inderdaad
die Here oor alles en almal is!

Ons ken vir Jesus as die Een wat naby aan ons is.
Maar ons buig ook voor Hom as die Here van die heelal.
Ons bely ook nou reeds dat Hy die enigste Here en God is.
Ons is kinders van God. Ons hoef nie gedwing te word om
voor die Here te buig nie. Maar alle goddeloses sal deur God
self gedwing word om te buig voor die enigste lewende God.
Wat ‘n voorreg en genade dat ons nou al met heilige ontsag
voor Jesus kniel en bely dat Hy die Here is!

Christus het Homself verneder ter wille van ons en die eer
van God. Hy was aan God gehoorsaam tot in die dood. Ja,
die dood aan die kruis. En dan beskryf Paulus die verhoging
van Christus, deur God self, treffend in Filippense 2:9-11:
“Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom
die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van
Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die
aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.”

Ons kan net saam met Psalm 106:2 uitroep:
“Wie kan die magtige dade van die Here onder woorde bring...
sy lof ten volle verkondig?”

Ernest