Paulus doen groot moeite om die gelowiges aan te moedig
in hulle lewe vir die Here. Hy was self ‘n toegewyde arbeider
in die wingerd van die Here. Hy werk hard daaraan om
gelowiges toe te rus om vir die Here te lewe. Sy grootste
vrees was dat gelowiges langs die pad sal uitsak. Ons weet
mos dit is nie elke dag maanskyn en rose om vir die Here te
leef nie. Maar dit gaan verseker nie oor ons gerief en
gemaklikheid rondom dit nie.

Paulus moedig die Filippense aan tot gehoorsaamheid – Fil. 2:12.
Hy moedig hulle ook aan om met eerbied en ontsag te leef as
verloste mense. Hy sê verder dat hulle moet onthou dat dit God
is wat hulle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
Daarom moet ons regtig baie afhanklik van God leef.
Vers 14 sê ons moet alles wat ons vir die Here doen, doen sonder
om te kla of teë te praat. Ons moet verder bo verdenking staan.
Ons moet dus opreg bly!

Ons leef nie in ‘n gemaklike konteks nie. Die wêreld rol nie vir
ons ‘n rooi tapyt uit nie. Daarom moet ons onberispelike kinders
van God bly te midde van ‘n ontaarde en korrupte wêreld.
Ons moet eenvoudig in die moeilikste omstandighede ligdraers bly,
sê vers 15. Hoe doen ons dit? Vers 16 sê; deur die woord van die
lewe uit te dra.

Paulus sê hier aan sy medegelowiges dat dit Hom trots sal maak
in sy eie dienswerk vir die Here. Ons moet mekaar aanmoedig,
soos Paulus die Filippense hier aanmoedig. Ons het dit nodig om
mekaar aan te moedig. Vers 17 sê ons geloof is ‘n offer in diens
van God. So kan ons saam deel in ons ywer en opgewondenheid
om vir die Here te leef en sáám vir Hom diensbaar te wees.
Paulus sê in vers 18 dat ons so ook saam die blydskap kan beleef
om as kinders van God te leef, al is dit in moeilike omstandighede,
soos met hom wat tydens hierdie woorde in die tronk sit,
vir sy geloof en ywer vir die Here Jesus Christus...

Ernest