Ons klou maklik vas aan dinge wat ons dink ‘n bate is,
om later te ontdek dat dit eerder ‘n las is! Dit het met
Paulus gebeur. Hy sê in Filippense 3:7: “Maar wat eers
vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter
wille van Christus...”

Ons gee nie maklik dinge uit vrye wil weg nie. Dit is nie
eie aan die mens se aard nie. Ons wil altyd meer en meer hê.
Wanneer Jesus Christus egter jou lewe word, verander alles!
En dit het nou nie te doen met ou klere of skoene weggee nie,
of ‘n “motorhuis-verkoping” nie. Nee, Paulus het dit wat vir
hom eerstehands en baie belangrik was weggegee. Dit wat hy
met sy lewe nagejaag het. Dit wat hy as onmisbaar en
onontbeerlik beskou het.

Paulus het naamlik sy familie afkoms prysgegee. Dit was vir
hom baie belangrik. Te belangrik. Ook sy volk verwantskap.
Vir baie mense is ook dít te belangrik. Hulle dink dit maak
hulle beter as mense van ander volke. Hy het sy sogenaamde
goeie werk prysgegee. Ook sy roemryke naam. En sy inkomste.
Alles! Hy sê in Filippense 3:5-6 wie hy was, en hoe belangrik
dit vir hom was: “...ek is op die agtste dag besny, van geboorte
‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wets-
opvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk,
in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry,
onberispelik.”

Mense in die Joodse volk het opgekyk na só ‘n persoon. Uit die
regte agtergrond. Hy kén die wet. Hy beskerm die Joodse godsdiens,
tot so ‘n mate dat hy die kerk vervolg, en hy is onberispelik aan
Moses se wet gehoorsaam! Maar dit wat eers vir hom ‘n bate was,
beskou hy nou as waardeloos! – vers7.

Hoekom? Wel, hy het die Persoon raakgeloop wat nog meer as dit
alles saam weggegee het, ter wille van hom, ter wille van sy sonde!
Jesus Christus, die Here!
Christus het letterlik alles opgeoffer, volgens Filippense 2 sy Godgelyke
bestaanswyse, om Homself te verneder tot die gestalte van ‘n slaaf, ja,
tot die vernederende dood aan die kruis.
Christus het letterlik alles prysgegee. Tot in Godverlatenheid.

Nou volg Paulus in Jesus se voetspore. Christenskap gaan altyd oor
prysgawe. Oor weggee. By Christus, en in sy voetspore, gaan dit nie
oor wat ‘n mens vir jouself hou, of kan kry nie, maar oor wat jy gee.
Die dinge wat jou geestelik skatryk maak is die dinge wat jy weggee.
Romeine 12:1 “...Gee julleself aan God as lewende en heilige offers
wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesentlike van die godsdiens
wat julle moet beoefen.”

Vandag is dit nog so. Jou grootste bates is dinge wat jy “nié op jou
naam het nie”! Dit wat jy aan Christus oorgee is jou kosbaarste
besittings. Jou grootste rykdom is jou bate-lys van dit wat jy weggee.
Dit wat jy aan Jesus se voete neergelê het, bepaal of jy ‘n geestelike
miljoenêr is. Wat is nog vir jou die belangrikste in jou lewe?
Hoé belangrik dink jy is dit vir die Here?
Dit wat vir jou so “lewensbelangrik” is...

Ernest