Wat is jou grootste wens?
Dink mooi daaroor voor jy verder lees.
Baie mense wens hulle het meer, of hulle wens hulle kan
iemand ánders wees. Hulle is nie tevrede met hulle self nie.
Wie hulle is nie. Of hoe hulle lyk nie. Of wat hulle het nie.
Hulle is ongelukkig met wie hulle hier en nou is. Hulle is ook
ongelukkig met daardie mens met wie hulle elke dag in
hulleself oor die weg moet probeer kom.
Die belangrike is egter dat jy moet weet jy besit die geestelike
potensiaal om die ware jy te wees wat God jou bedoel het jy
moet wees. Waarskynlik is die probleem dat ons maar nog net
nie geleer het hoe om die Here toe te laat om ons lewens te
omskep nie. Te herskep nie! Ons wil nog self ons eie lewe vorm
en ons eie kop volg. Ons het nog nie vir God toegelaat om beheer
oor te neem van ons lewens deur die Heilige Gees nie. Ons het
eintlik nog nie afstand gedoen van al die afgode in ons lewe nie.
Die dinge wat vir ons belangriker is as God en sy koninkryk.
Soos Paulus moet ons op die harde manier leer dat alles wat ons
gedink het só belangrik is, eintlik geen blywende waarde het nie.
Paulus kom by die punt in sy lewe wat hy sy grootste wens
uitspreek as nuwe mens in die Here. Wat is dit?
Hy sê in Filippense 3:10-11: “Al wat ek wens, is om Christus te ken,
die krag van sy opstanding te ondervind, en deel te hê aan sy lyding
deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self
deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”
Paulus se geestelike lewe was aan die brand omdat hy die ander gode,
dinge wat belangriker was as Jesus Christus, by die agterdeur van sy
lewe uitgegooi het. Christus was nou sy hele lewe. Filippense 1:21:
“...want om te lewe is vir my Christus...” Al waarvoor hy gelewe het
was om Christus met sy hele lewe te volg en God so te eer.
Kom ons leef ook passievol ons hele lewe vir die Here.
Dat ook ons net een wens sal hê: Om Christus te ken.
Met ons hele lewe! Om die krag van sy opstanding in ons lewe te
ondervind omdat ons saam met Hom opgestaan het tot die nuwe lewe!
Dat ons met oorgawe ook deel sal hê aan sy lyding, ter wille van die
koninkryk van God. Juis omdat ons saam met Hom opgestaan het,
en lewe! Om te lewe...is vir my Christus!
Ernest