As jy nie weet waarheen jy op reis is nie,
is dit presies waarheen jy op pad is, nêrens.
Dit geld bo alles jou geestelike lewe. Ons kan nie
bekostig om onsself te programmeer vir geestelike
mislukking nie. Ons hoor maklik dat mense sê hulle
kan nie dit of dat doen nie. Of, “niemand is volmaak nie”.
So plaas ons ‘n groot demper op die vermoë wat God ons
gegee het. Of dit wat God geestelik deur ons wil doen.
Dan dink ons “klein” oor wie God is en wat God deur ons
wil doen. Negatiewe denke en negatiewe opvattings maak
dat baie Christene nooit hulle volle geestelike potensiaal
verwesentlik nie.

Is dit ook besig om met jou te gebeur? Hoe dink jy oor God
se werk in jou lewe en dit wat God deur jou wil doen?
Dink jy “klein” daaroor? Ons moet ook versigtig wees om te
sê dat ons iets nie kan doen nie, bloot omdat ons al ‘n paar
keer in die verlede misluk het. Vertrou God onvoorwaardelik.
Hy wil deur jou werk!

Paulus leer vir ons dat ons altyd geestelike doelwitte voor oë
moet hê. Ons moet dit dan met al ons energie en passie vir die
Here najaag. Moenie geestelik gestrand raak in jou lewe nie.
Hou vol om oorwinnend te dink en te leef!
Paulus sê in Filippense 2:12: “...maar ek span my in om dit alles
myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.”
Span jou in om die geestelike doelwitte te bereik wat jy onder
leiding van die Heilige Gees wil bereik.

Iemand vra: “Watter roete moet ek volg?”
Die ander persoon vra: “Waarheen wil jy gaan?”
“Ek gee nie juis om nie...”, sê die persoon.
“Dan kan jy enige pad vat”, antwoord die persoon.
As jy nie in jou geestelike lewe weet waarheen jy op reis is nie,
dan kan jy enige pad na nêrens neem.

Paulus maak nie hierdie fout nie.
Hy weet waarheen hy op pad is. Sy lewe is Christus.
Sy lewensdoel is om in alle omstandighede vir Hom te leef,
al vra dit ook wat. Hy het voluit vir Jesus geleef. God se eer is
vir hom allerbelangrik.
Daarom is dit vir hom duidelik wat sy pad is. Wat sy keuses is.
Hy dink nie negatief nie. Hy voel nie gestrand nie. Hy dink en leef
vanuit die oorwinning in Jesus Christus omdat Christus Jesus
hom “reeds Syne gemaak het.”
Dink en leef vanuit die oorwinning in Jesus Christus!

Ernest