Om koers te hou is dit nodig om seker te maak dat
jy die regte koers kies. Ons is nog nie by die eindbestemming
nie. Ons is nog nie by die wenstreep nie. Maar ons moet seker
maak ons is in die regte wedloop. Op die regte koers!
Paulus sê in Filippense 3:13-14: “Broers, ek verbeel my nie dat
ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los
van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in
om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan
behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

Net as ons dink, ja, dit is Paulus, en ek is nou nie in dieselfde
liga as hy nie..., dan sê hy in vers 15: “Ons almal wat geestelik
volwasse is moet hierdie gesindheid hê.”
Ons almal!..sluit jou in! Jy behoort aan die Here. Hy woon in
jou deur sy Gees. Hy lei jou. Hy wil jou op koers hou. Hy het
met jou bekering vir jou die koers aangedui. Dit gaan nou oor
jou gesindheid! Want, sê vers 15 verder: “God sal ook hierin
aan julle die regte insig gee.” God het al hoeveel keer in die
verlede vir jou die koers aangedui. Hoeveel keer het jy al die
wonderlikste “wow”-belewenisse saam met die Here gehad!
Jy ken die koers! Daarom sê Paulus in vers 16: “...laat ons
koers hou op die pad waarmee ons tot hier gekom het.”

Te veel Christene karring maar aan van een dag na die ander,
sonder enige koers in hulle geestelike lewe. Hulle droom
geen groot drome oor die koninkryk van God in hierdie
wêreld nie, en hoé hulle God daar met passie en oorgawe kan
verteenwoordig nie. Hulle sien net probleme. Hulle praat net
van geestelike terugslae as gevolg van hulle eie gebrek aan
geestelike krag. Hulle boots geestelike krag na, by die kerk.
Maar daar is nie toewyding aan die Here in hulle lewe nie.
Hulle leef asof Jesus nog in die graf is en nie opgestaan het
uit die dood nie. Hulle bely: “Ek glo in God, die Almagtige Vader”,
maar leef asof die toekoms afhang van politiek, ekonomie of
gesondheid...Daarom is hulle geestelik gefrustreerde mense,
sonder koers. Wat glo jy, en wat bely jy, en wat leef jy?

Die oplossing: Om die soort lewe te leef wat God van jou
verlang moet jy dit sélf ook begeer met jou hele lewe.
Lees weer hierdie bogenoemde sin.
Jy moet dit méér begeer as enige iets anders in jou hele lewe.
Jy moet honger en dors na die geestelike pad saam met die Here.
In alles in jou lewe. Dit moet die hartklop van jou lewe wees.
En dan kan jy wéét dat jy op God se koers is. God se pad vir jou.

Ernest