Filippense 4:1 sê: “Daarom, my broers, moet julle vas staan
en getrou bly aan die Here.” Mense wat geestelik groei is altyd
op God se grootheid ingestel, en nooit in die eerste plek op hul
eie behoeftes nie. Om dit reg te kry moet ons gereeld tyd met
die Woord van God deurbring, en so, onder leiding van die Heilige
Gees, met God self! Dan sal jy Hom al hoe beter leer ken.
Jy sal ook agterkom dat die Almagtige wat die hele heelal bestuur,
ook verseker jou in die holte van sy hand hou. So sal jou gebede
en lewe al hoe meer begin fokus op dit wat God mee besig is en
dit wat God wil hê ten opsigte van jou lewe. God se belange sal
eenvoudig ook jou belange word! Wanneer Paulus hier sê ons
moet “vas staan”, dan beteken dit dat jy uit hierdie perspektief
begin lewe. God se belange word my belange!
So word jy ook al hoe meer dankbaar oor die geleentheid om
saam met God besig te wees in die wonderwerk wat Hý besig is
om te doen in hierdie wêreld. Jy hou op om net jou eie seëninge
te tel en jy begin om jou seëninge te laat grondvat in die wêreld
rondom jou. Om net ons seëninge te tel kan beteken dat ons eintlik
net op ons eie seëninge fokus. Ons word egter geseën om ander
mense tot seën te wees! Ons moet daarom ook al minder oor ons
eie behoeftes bid en al meer oor dit wat vir God en sy koninkryk
belangrik is. So sal ons ook al hoe meer tyd in gebed saam met God
deurbring. Ons moet die Here voorop stel in ons gebede. Ons moet
sy Naam eer en groot maak en minder met ons self gerigte behoefte-
lysies na die Here toe kom. Ons moet regtig die Here laat meer word
in ons lewe, en ons moet al minder word. Deur die Woord en gebed.
Dan word jy geestelik sterk. Dan staan jy vas.
Francois Fénélon het hierdie baie belangrike waarheid beklemtoon:
“Daar is min dinge wat gevaarliker is vir jou ewige bestemming,
wat God meer oneer aandoen, en jou eie lewe meer saboteur,
as om tevrede te wees om te bly net soos jy is. Die enigste bewys
van ware lewe, is groei. En dit geld bo alles jou geestelike lewe.”
Ernest