Blydskap is ‘n noodsaaklike deel van ons lewe.
Navorsers beweer dat mense wat gereeld lag langer
leef en met minder stres leef. Om te lag maak ook baie
laste ligter wat so swaar op ons kan kom lê. Ons moet
as gelowiges doelbewus meer geleenthede skep om
vrolik te wees. Ons kan en moet ware vreugde in ons
lewe beleef, want ons dien die God van vreugde.
Jesus Christus het hierdie baie belangrike woorde in
Johannes 15:11 gesê: “Dit sê Ek vir julle sodat My blydskap
in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.”
Dit is waarom Paulus ook in Filippense 4:4 kan sê:
“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”
Dit is nie ‘n aangeplakte blydskap in moeilike omstandighede
asof ons die realiteite rondom ons ignoreer nie.
Dit is ‘n blydskap wat moontlik is in álle omstandighede omdat
dit blydskap “in die Here” is. Let op die woorde:
“Wees altyd bly in die Here!” Altyd! In die Here!
Daarom herhaal Paulus dit in dieselfde asem!
“Ek herhaal: Wees bly!”
Ons skep maklik vir ons ‘n rangorde van wat ons dink
die belangrikste godsdienstige voorskrifte is. Ons sal
byvoorbeeld baie ernstig luister na die Tien Gebooie.
Heel tereg ook. Maar wanneer die Bybel sê ons moet
ons ophou bekommer, of dat ons blymoedig moet wees,
hoor ons dit net so half in die verbygaan en gee ons nie
dieselfde gewig daaraan nie. Lees net weer wat Jesus in
bogenoemde Johannes 15:11 gesê het. Dink net ook weer
daaroor wat Jesus se eerste uitsprake na sy opstanding was:
“Moenie bang wees nie” en “vrede vir julle”. Jesus self het
ons ook beveel om ons nie onnodig te bekommer nie.
Die Here vra van ons blydskap in Hom as die opgestane
lewende Here wat ook aan óns die ware lewe kom gee het!
Hy beveel dit!
Kies vandag vir God se vreugde-bevel. Gaan loop saam met
Hom op sy vreugdepad van oorwinning. Wees van voor af
dankbaar oor al sy wonderwerk en voorsiening in jou lewe.
Hou op kla, en leef in die vreugde van die Here.
Draai jou rug op die koor van mense wat maklik suur is oor
alles en kla oor alles. Sluit aan by die gelowiges wat die Here
se blydskap najaag en dit uitleef met hulle hele lewe.
“Wees altyd bly...in die Here! Ek herhaal: Wees bly”
Ernest