Regtig!? Moet oor niks besorg wees nie?
Wel, hier staan dit swart op wit in God se Woord en jy
aanvaar tog God se Woord as die waarheid vir die lewe.
Filippense 4:6: “Moet oor niks besorg wees nie, maar
maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en
met danksegging aan God bekend.”

Die presiese rede hoekom ons nie besorg moet wees nie,
is omdat ons die dinge wat ons besorg maak vir God moet
gee! Gee jou probleme vir God. Dit is Paulus se geheim om
geestelik sterk te bly. Regdeur sy lewe het hy alles waaroor
hy besorg was na God geneem! Hy het dit dan ook daar gelaat,
by God, en weggestap met verligting en dankbaarheid.
Let op die kernwoorde: Moenie besorg wees nie. Maak jou
begeertes aan God bekend. Met smeking. En dan ook:
met danksegging! Sê reeds vir die Here dankie dat jy nie
verder besorg hoef te wees nie.

In ruil vir Paulus se vertroue op God, in alle omstandighede,
het God op sy beurt Paulus se gedagtes en emosies met vreugde,
vrede en dankbaarheid gevul! Om te dink jy kan die heel grootste
krisis in jou lewe by God se voete gaan neersit. God verwag dit
selfs van jou! Staan dan reg om te ontvang wat God daardeur vir
jou wil gee. Verwag om sy aanraking daarin te ervaar.
Sy genade, liefde en sorg.

Kyk net wat is God se ruiltransaksie daarin:
“En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor
julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” – vers 7.
Dit is die wonderlikste ding wat God doen wanneer jy jou
besorgdheid en kommer na Hom toe neem! Daar en dan gee
God sy vrede aan jou wanneer jy Hom ten volle daarmee vertrou!
God bedoel dit. God doen wat Hy sê. Maar jý moet óók hierin doen
wat Hý sê.

God het sy Seun gegee om te bewys Hy bedoel wat Hy sê!
Christenskap gaan daaroor om in en vanuit die oorwinning in Jesus
Christus te leef! Dit bring hierdie vrede van God wat alle verstand
te bowe gaan! God waarborg sy goddelike bystand aan jou!
Gee jou probleme vir Hom, en dra die vrede wat Hy jou gee met jou
hele lewe na buite uit as ‘n getuienis!
Dit is een van die sterkste getuienisse wat jy ooit kan uitleef.
Dat jy nie besorg is nie! Want God sorg in die fynste detail vir jou!
Mense sien letterlik dat jy vrede het wat alle verstand te bowe gaan!

Ernest