Mense soek op allerhande maniere erkenning.
Dit is een van die oudste probleme in die mensdom.
Dit is waarmee die duiwel Adam en Eva kom verlei en
mislei het. Doen dit en dat en julle sal soos God wees...
Hulle was toe ook nie tevrede om aan die voet van God
se troon te wees nie. Hulle wou ook op die troon wees.
Intussen het nog niks in die mensdom verander nie.
Ons leef nog steeds in die tyd waarin roem groot geld beteken.
Mega-sportsterre, popsangers, filmsterre...noem maar op.
En al val hulle persoonlike lewens uitmekaar bly hulle nog
steeds mense met sterstatus en heldeverering. Baie mense kom
ook bo uit in die lewe deur op ander mense te trap en so hoër en
hoër te klim. Hulle lewens bly leeg as gevolg van selfsugtige
eersoekende gedagtes.
Wat is die belangrike les aan ons? Paulus gee die oplossing en sê
waarop ons gerig moet wees, in Filippense 4:8: “Verder, broers,
alles wat waar is, alles wat edel is, alles war reg is, alles wat rein is,
alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of
lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle
gedagtes rig.” Dit is ‘n totaal ander fokus. So  maak jy jou kop vol
met God-verheerlikende gedagtes. So kry jy erkenning by God!
Die belangrikste Persoon in die ganse heelal!
Kyk net wat sê vers 9, wat is dan die gevolg daarvan, wanneer jy
jou gedagtes so rig: “...En God wat vrede gee sal by julle wees.”
Wanneer jy toelaat dat God jou kop volmaak met die regte soort
dinge wat Hom eer, waarborg God aan jou sy vrede wat alle
verstand te bowe gaan, waarvan Fil. 4:7 ook reeds gepraat het!
Om God se vrede te ervaar moet ons ‘n paar baie belangrike
dinge onthou:
Onthou dat die Here eerste na jou uitgereik het in genade, en dat
Hy jou in bedelaars-klere gekry het, en aangeneem het as kind!
Moenie ooit ophou om Hom hiervoor te dank nie.
Onthou ook dat die Here oneindig groot is. Onthou dit elke keer as
jy voor Hom staan. Hy hou die heelal in sy hand en daar is niemand
soos Hy nie.
Onthou ook dat die Here na elke gebed luister wat jy in die Naam
van Jesus bid. Hy verhoor dit nie noodwendig soos jý wil nie. Maar,
sy wil is die beste vir jou! Onthou om daarom vrymoedig te bly bid.
Onthou ook dat die Here sy rykdom van genade, ontferming, liefde
en beskerming tot jou beskikking stel. Leef daaruit!
Dan vloei God se vrede in jou lewe in, die vrede wat alle verstand
te bowe gaan en geen erkenning soek nie.
Want jy is reeds alles wat ‘n mens kan wees, en wat God wil hê,
in die Here Jesus Christus!
Ernest