Ons leef in ‘n samelewing waar ekstremiste meer aandag
kry as die gewone mens. Kyk maar na TV programme.
Mense met vreemde waardes word nagevolg en aangehang.
Mense wat onseker is oor hulle identiteit het groter trefkrag
in die samelewing as mense wat eerlik leef en werk.
Iewers is skroewe los. Ons “moderne” wêreld verouder eintlik
by die dag! Ons kan dit nie meer in stand hou nie en rig groot
skade aan. Die wêreld raak net nog meer en meer stukkend.
Dit is nie ‘n pessimistiese siening nie, maar ‘n feit. Ons verniel
die skepping en mekaar. Ten spyte van al die pogings om ons
wêreld te verbeter is dinge in millennium drie niks beter as
vyftig jaar gelede nie. Ons put alles uit. Die wêreld haas hom
nou om so gou as moontlik groen te gaan, want ons leef op ‘n
ekologiese tydbom.
Die oplossing is eenvoudig. “Back to basics.”
‘n Eenvoudige leefstyl waar mense met minder leef,
sodat ander kán leef. ‘n Eenvoudige leefstyl waar mense met
minder tevrede is. Ons is nie eers tevrede met wat God gee nie!
Ons wil ten koste van ander meer vir onsself inpalm.
Wanneer mense weer eenvoudig die moed het om hulle hand
in God se hand te sit, en Hom onvoorwaardelik vertrou met
hulle hele lewe, sal die wêreld weer gesond word. Ons moet
weer by die punt kom waar ons opreg dankbaar lewe vir die
kleinste dingetjies en God opreg dank vir ‘n snytjie brood en
‘n beker water. Elke genadegawe uit sy hand.
Paulus sê in Filippense 4:11 dat hy geleer het om hom in alle
omstandighede te behelp. ‘n Ander vertaling sê “om vergenoeg
te wees”. Tevrede te wees. Daar is baie goeie en baie slegte kante
van die lewe. Ken jy albei kante? Regtig? Was jy regtig al by die
beste en die slegste kant van die lewe? Paulus het albei kante geken,
sê hy in vers 12.
Nou die belangrike: Paulus se lewenskwaliteit is egter nooit
beïnvloed deur te veel of te min van die een of die ander kant nie.
Te veel armoede het hom nie ondergekry nie, en te veel rykdom het
hom ook nie perspektief laat verloor nie. Die lewe gaan nie om
uiterlike dinge, of die gebrek daaraan nie.
Vir Paulus was die lewe Christus. Punt.
Sy verhouding met Hom is al wat saak gemaak het.
Dit is waaroor die lewe regtig gaan. Die lewe gaan nie oor wat jy het
of nog moet kry nie.
Die lewe gaan oor Christus. Hy gee betekenis aan elke asemteug.
Elke stukkie lewe. Plaas nou jou hand in God se hand. Vertrou Hom!
Regtig...
Ernest