Aan Wie ons as Christene behoort bepaal ons hele lewe
en ons uitkyk op die lewe. Dit behoort dit te bepaal!
Wat God van ons dink verander beslis hoe ons oor onsself dink.
Dit moet ook bepaal wat ons wil doen. En ook hoé ons dit wil doen.
Waarop ons wil fokus. En dit maak verseker dat ons die lewe geniet
soos God dit bedoel. Hy wil hê dat ons die lewe in oorvloed sal leef.
Die lewe self. Die regte dinge. Die mooi van die lewe. Dat ons die
lewe self sal vier terwyl ons lewe! Die lewe in en saam met Hom!

Lees weer Filippense 4:8: “Verder, broers, alles wat waar is,
alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat
mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of
lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle
julle gedagtes rig.” Alles oor ons lewenswandel!
Hierdie is ‘n uiters belangrike teks vir ons hele lewenswyse!

Dewitt Jones, die bekroonde fotograaf van die National Geographic-
tydskrif, het in ‘n besielende toespraak gesê dat dié beroemde tydskrif
se leuse is: “Let’s celebrate the right things in life.” Hierdie leuse gee
aan hom die energie om elke dag die mooie in die lewe te gaan soek.
Dit is wat Paulus al eeue terug in bogenoemde teks gesê het!

Paulus wil met Filippense 4:4-9 sê: Aan Wie ons behoort,
bepaal ons hele lewe. Aan Wie ons behoort gee sin aan ons lewe!
‘n Priester het in die Middeleeue op twee mans afgekom op ‘n
bouterrein. Albei was besig om natgesweet klippe te kap in die son.
Hy het vir die eerste man gevra wat hy doen en dié het geantwoord:
“Ek kap klippe.” Hy het aangestap tot by die tweede man en vir hom
gevra wat hý doen. Hy het met ‘n glimlag opgekyk en gesê:
“Ek bou ‘n katedraal, vir die Here.”
Albei mans was besig met dieselfde werk. Maar die een het homself
as ‘n klipkapper gesien, en die ander het homself as ‘n katedraal-bouer
beskou. Wát ‘n enorme verskil.
Aan Wie jy as Christen behoort bepaal hoé jy jouself sien, en bepaal
ook met watter gesindheid jy leef...en werk.

Omdat ons kinders van ons hemelse Vader is, kan ons verseker
“katedraal-bouers” wees! Mense wat voluit lewe, met sin in die lewe!
Ons moet weet wié ons is: “Katedraal-bouers!”, vir die Here.
Ons moet ook weet wát ons wil doen:
“Let’s celebrate the right things in life!”, Filippense 4:8.
Die Engelse taal som dit kort en kragtig op:
Jou “belonging” bepaal jou “being” en jou “doing”.
Aan Wie jy behoort bepaal wie jy is, en hoe jy leef!
Aan Wie/wie behoort jy? Hoe lyk jou lewe?

Ernest