Vier die regte dinge in die lewe, ook in moeilike omstandighede.
Wanneer Paulus oor die Christelike lewenswandel praat, dan sê
hy dat ons altyd bly moet wees, in die Here – Filippense 4:4.
Altyd. Hoe? Vers 6: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak
in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging
aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe
gaan, sal in julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Ons moet eenvoudig weer besef dat God ons oorlaai met sy genade!
Ons dra dikwels te veel bagasie met ons saam wat maak dat die lewe
te swaar vir ons word. Daarom weer die oproep: “Let’s celebrate the
right things in life!”
Vier die regte dinge in die lewe! Fokus eerder op God wat jou oorlaai
met genade, as op die bagasie wat jy saamsleep.
Hiermee word nie ontken dat die lewe soms baie moeilik is nie.
Soos Leonard Cohen sing: “It’s a cold and very broken Hallelujah”.
Daar is ‘n Swahili gesegde wat lui: “Die lewe het betekenis ín die
gesukkel.” Alles is in die hande van God. Kom ons vier ook die sin
en betekenis in die gesukkel.
Hoekom kan ons in die moeilike tye nog die lewe vier?
Omdat hierdie probleme maar van korte duur is in die lig van die
ewige lewe, én God wat ons oorlaai met genade.
God kyk met sagte oë na ons en sy hart klop warm vir ons.
Ons kan die lewe met sy mooi én swaar vierkant in die oë kyk,
en dit vier!
Die St Louis-Jesuïte sing elke dag met oorgawe:
“Ons besit ‘n skat
Nie van goud gemaak
In kleipotte
Ons rykdom onberekenbaar!”
2 Kor. 4:7-10.
God oorlaai jou met genade!
Ernest