“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.
Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe
van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en
daarom het niemand enige rede om op homself trots te
wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is:
in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan
die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” – Efesiërs 2:8-10.
Eintlik is ons nou by die waarheid waarby ons geloof staan en val.
Dit wat ons anders sal laat leef as ons dit eerstehands ontmoet het,
en nie net daarvan hoor of leer nie: God se genade.
Ons het al so baie die woord “genade” gehoor en gelees dat ons
afgestomp raak daarvoor. Feit is, as jy God se genade vir jou intens
ontdek het, vergeet jy dit nooit ooit weer nie, en jy leef daaruit!
C.S. Lewis het oor genade gesê: “People need more to be reminded
than to be instructed.” Ons moet weer herinner word aan die
wonderlike genade van God ons Vader, in Jesus Christus, ons Here!
Genade is God se geskenk aan jou dat jy aanvaar word deur God,
nog voordat jy aanvaarbaar word. Daarom sing ons “Amazing grace!”
Genade onbeskryflik groot. Hierdie Engelse woorde spel dit uit:
God’s
Riches
At
Christ’s
Expense.
Let op: Die eerste letter van elke woord spel “GRACE”.
Al die rykdom van God, wat ons ontvang, teen die prys wat Christus
vir ons betaal het.
As dit is hoe genade werk, dan vra ons dadelik die vraag:
Maar maak hierdie genade mense nie onverskillig en roekeloos nie?
Die Heidelbergse Kategismus antwoord dit uitstekend:
Nee, want dit is ón-móóntlik dat ‘n mens wie se lewe deur die genade
van Christus aangeraak en deur ‘n wáre geloof in Christus ómgekeer is,
nié vrugte van dankbaarheid sal dra nie! Eenvoudig onmoontlik!
Ons is sondaars wat vrygespreek is. Wat volledig vrygemaak is deur
God se genade. Hoé kan jy nié anders lewe nie!? Ons hou nou op om
te vra oor wat ons mág doen en nié mag doen nie, want ons kan nie
ánders nie, en wil nie anders nie, as om met ons hele lewe vir die Here
te leef! Jy wíl anders leef!
Want jy het God se genade eerstehands beleef!!!
Ernest