Genade maak jou vry van ál jou sondes, die van gister,
vandag en môre! Dit maak jou vry van skuld, en skuldgevoelens.
Jy dra nie soos ‘n slak meer ‘n “dop” van sonde teen ‘n slakkepas
met jou saam nie. Nee, jy vlieg vry in die wind soos ‘n arend met
die krag van ‘n arend – Psalm 103:5. Jy reis lig deur hierdie lewe!
Alles genade!

Wat gebeur wanneer jy weer misluk? Die beroemde pianis,
Paderewski, wat ook later staatshoof van Pole was, het ‘n konsert
gaan bywoon waar sy vriend se dogter as pianis sou optree. Toe sy
sien dat Paderewski in die gehoor is het sy verhoog-vrees gekry.
Sy het met groot gesukkel in trane uitgebars. Na alles verby was het
Paderewski na haar gegaan, niks gesê nie, haar net liefdevol op haar
voorkop gesoen, en die saal verlaat. Daardie daad het liefde en begrip
oorgedra en die meesterpianis het haar daardeur aangemoedig tot
groot hoogtes wat sy bereik het.

God reageer met nog meer liefde en begrip wanneer ons, sy kinders,
struikel. Wanneer ons terugval in sonde en onsself as mislukkings
beskou, draai God nie sy rug op ons nie. Dit is hoe God se genade werk.
Dit draai nooit rug op jou nie. Wanneer ons opreg bely gee God ons ‘n
nuwe verlede! ‘n Vergeefde verlede! Hy begin wéér nuut met jou!
Wanneer jy voortdurend met skuldgevoelens na jou verlede wil omkyk,
verstaan jy nog glad nie genade nie. Genade laat jou na ‘n nuwe
vergeefde verlede kyk! Jy is vrygemaak!

Genade is aanvaarding! Genade sê duidelik dat God jou aanvaar het!
Aanvaar ook nou jouself as nuwe mens in Christus Jesus! Jy is kosbaar
vir God!
Philip Yancey het van ‘n vriend, wat die Here ontmoet het, ‘n poskaart
ontvang met net ses woorde op: “I am the one Jesus loves!”
Toe hy hieroor navraag doen het hy ontdek dat dít is hoe Johannes
homself geïdentifiseer het in die Johannes Evangelie. Hy het nie in die
eerste plek gesê hy is ‘n dissipel, of ‘n apostel, of evangelis en skrywer
van die Johannes Evangelie nie. Hy sou eerder sê:
“Ek is die een vir wie Jesus lief is”. Dit is hoe Johannes sy verhouding
met Jesus beleef het. Jesus het hom lief! Dit is presies hoe genade werk.
Deur die genade van God is dit jóú identiteit!
Jy kan sê: “Ek is die een vir wie Jesus lief is!” Kyk in die spieël en sien
wie God sien. God sê in Efesiërs 2:10 jy is sy meesterstuk, herskep in
Jesus Christus : “...God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus
het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy
ons bestem het.” Lééf!...uit God se genade!

Ernest