God se genade is ‘n krag van verandering.
Genade verander jou totaal. Jy word ‘n nuwe mens,
‘n ander mens. Paulus het by die punt in sy lewe gekom
waar hy verklaar het dat Christus die geveg gewen het en
heeltemal beheer oor sy lewe oorgeneem het!
Hierdie lewens-waarheid getuig hy in Galasiërs 2:20:
“En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat
in my lewe.”
Ben Kingsley het die hoofkarakter gespeel in die fliek “Gandhi”.
Hy het hom totaal instudeer in Gandhi se lewe en optrede.
Suid van Delhi het hy uit die motor geklim tydens verfilming.
‘n Bejaarde man het gekniel en aan sy voete geraak. Kingsley het
verleë gesê hy is nie Gandhi nie. “Ons weet”, het die man gesê.
“Maar deur jou sal Gandhi verseker weer by ons leef.”
Dit is wat Paulus sê wáár moet wees van ons lewe as gelowiges:
Christus moet so in ons leef dat ander mense ervaar Christus leef
tussen hulle! “In Christus Jesus het God ons geskep om ons lewe
te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. – Ef. 2:10.
Leef Christus in jou? Beleef mense jou as ‘n veranderde mens?
Genade maak jou daarom ook dankbaar! Dit is hoe elke gelowige op
God se liefde reageer. Jy kan nie anders as jy genade ontmoet nie!
Genade laat jou omdraai. Dit gee jou die belewenis van verwondering
en ware vreugde in die lewe. Jy leef dit uit want dit is wat genade aan
jou doen. Jy kan eenvoudig nie anders nie. Jy word ‘n genade-uitdeler!
Nie ‘n genade “versmoorder” nie...
Onthou hierdie vir die res van jou lewe:
Daar is niks wat jy kan doen om te maak dat God jou méér liefhet nie.
Daar is niks wat jy kan doen om te maak dat God jou minder liefhet nie.
Hy het jou tot die uiterste toe lief, sê Johannes 13:1. Punt!
Dít...is hoe genade werk! Wanneer jy dit snap, maak dit jou totaal vry!
Jy doen nie meer die goeie dade sodát jy hemel toe kan gaan nie.
Jy doen dit omdát jy hemel toe gaan. Jy ís gered. Dít...is genade!
Steek net jou hand uit en ontvang dit as geskenk van God. Ook die
vermoë om jou hand uit te steek en dit te neem, ook dít is genade.
Ernest