Johannes 1:12 sê: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het,
die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God
te word.” Dit is seker die belangrikste ding om in hierdie lewe
te weet: Dat ek ‘n kind van God is! Wie jy ís, gaan ook bepaal
hoe jy leef! Hoekom is dit so belangrik om jou kindskap van
God te beklemtoon? Wat maak kinders so uniek anders as
volwassenes, wat dan ook ons status as kinders van God
beklemtoon? Wat maak dit so lewens-veranderend om te
weet ek is “kind van God”?

Kyk maar net na sekere kenmerke van klein kindertjies:
Kinders is afhanklik. Kinders kan nie op hul eie leef sonder
ouers nie. Dit is ook hoe ons voor God en saam met God leef.
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” – Matt. 5:3.
Kinders is nederig. Hulle het nog nie die “eie ek” wat hulle lewe
oorheers nie. Hulle is nie vol van hulleself nie. So moet ons ook
voor God leef. “Hy moet meer word en ek minder.” – Joh.3:30.
Kinders is gehoorsaam. Hulle het die begeerte om hulle ouers
gelukkig te maak. So moet ons ook vir God leef. “As gehoorsame
kinders...” – 1 Pet. 1:14a.
Kinders het ‘n kort geheue. Hulle dra nie wrokke en griewe teen
mekaar nie. Hulle is sterk op vergifnis. Ons moet ook as kinders
van God sewentig maal sewe keer vergewe – Matt. 18:21-22.
Kinders besit die vermoë om hulle te verwonder. Die lewe is vir
hulle wonderlik. Dit waarby geloof staan of val –
dat die onmoontlike vir God moontlik is (Luk. 1:37) – is vir kinders
werklikheid. Dit moet vir ons ook so wees. Die Ou Testament
teoloog, Walter Brueggemann, het gesê: “As jy nog nie glo dat God
die onmoontlike kan doen nie, dan glo jy nog glad nie.”
Kinders is eerlik en eg. Hulle is net hulleself. Kinders van God kan
hulle ware self by God wees!
Kinders vertrou hulle ouers. Hulle ouers weet alles, en hulle vertrou
hulle ouers met alles. Ons weet as kinders van God dat God alles
weet, en dat ons God onvoorwaardelik kan vertrou met ons lewe.
Ons kan inderdaad doen soos Jesus ons leer. Ons kan God Abba Vader
noem. Pappa God! Jesus is die eerste wat kinders van God geleer het
om so oor en met God te praat!

Ons kan as kinders van God weet:
Ons behoort aan God! Hy is die volmaakte Vader wat ons ten alle tye
liefhet. Hy aanvaar ons, maak nie saak wat ons al gedoen het nie.
Hy troos ons. Hy voorsien en sorg vir ons. Hy het in Christus vir ons
gewys hoe lief Hy ons het!
Rabbi Arno van Karlien het gesê: “Die grootste sonde wat ‘n mens
kan doen is om te vergeet dat jy ‘n kind van God is.”

“Ons het geleer om deur die lug te seil soos voëls, om deur die see
te swem soos visse, om deur die ruimte te sweef soos komete.
Nou is dit hoog tyd dat ons leer om op die aarde te loop soos
kinders van God.” – William Clan Koffie.

Ernest