Jesus het gesê: “Ek is die wingerdstok, julle die lote” – Joh. 15:5.
In vers 4 sê Hy: “Julle moet in My bly en Ek in julle.” Hy sê daarom
verder: “Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder
My kan julle niks doen nie.” – vers 5.
‘n Mens kan Christenskap nie “fake” nie. Ons lees baie oor “fake-news”,
en ons weet dat dit nie die waarheid is nie. Nagemaakte godsdiens is
nie ware kindskap van God nie. As jy nie as loot in die wingerdstok is nie,
kan jy nie vrug dra nie.
Om ‘n wingerdloot te wees gebeur drie dinge: Jy ís in die wingerdstok.
Jy drá vrug. Jy wórd gesnoei.
Wanneer ‘n elektriese toestel nie wil werk nie is die eerste vraag:
Is dit ingeprop? Is jy ingeskakel by Jesus? Sonder Hom het jy nie
krag nie en sal niks werk nie.
So ook die loot. As dit nie in die wingerdstok ingeplant is nie sal
dit nie vrug dra nie. Daarom sê Jesus ons moet in Hom bly, en dit
is ‘n lewenslange proses.
Hoe doen jy dit? Word gereeld stil by Hom. Hoe meer tyd jy saam
met Jesus spandeer, hoe liewer word jy vir Hom omdat jy ontdek
hoe lief Hy jou het. En al manier hoe jy Jesus beter kan uitleef as
sy volgeling, is om Hom liewer te hê! Jy moet meer tyd saam met
Hom deurbring. Lees sy Woord. Praat met Hom. Geniet sy
teenwoordigheid. Elke dag. Iemand vertel dat hy altyd in sy
dagboek geskryf het: “Stiltetyd”. Tog het hy dit dikwels gemis.
Toe skryf hy by elke dag in sy dagboek. “Jesus”, en van toe af mis
hy nie een stiltetyd nie. Hy kuier saam met Jesus uit sy Woord,
gesels met Hom, en geniet sy teenwoordigheid. Hy is ons grootste
Vriend, en bo alles ons Here! Daarom is dit met eerbied en aanbidding
wat ons sy teenwoordigheid geniet en waardeer. Ons kan en wil nie
meer anders as ons in die wingerdstok ingeplant is nie.
“Julle moet in My bly.” – Joh. 15:4.
Die vrug wat ons dra sal aan die wêreld bewys dat ons aan Christus
behoort. Ons sal nie “fake” wees nie. En so eer ons God: “My Vader
word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra” – Joh. 15:8.
Maar ons word ook gesnoei. Om meer vrug te dra. Minder word meer!
In vers 2 sê Jesus: “Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny die
Vader af; maar elkeen wat vrugte dra snoei Hy reg, sodat dit nog meer
vrugte kan dra.” Die Griekse woord wat hier vir snoei gebruik word het
twee betekenisse: snoei en reinig. Snoei reinig ons!
En so word gebrokenheid ‘n seën! Moenie van stiltetyd af wegskram
omdat jy bang is om gesnoei te word nie. Dit is juis daardeur wat jy
méér lééf en vrug dra! Moenie uit eie krag gaan nie...
Onthou weer 2 Kor. 12:9: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom
juis tot volle werking wanneer jy swak is.” In stiltetyd bely ons
afhanklikheid van God. Dink jy...jy kan op jou eie? Net God kan.
Dink jy jy is God? Nee. Bly in die loot!
Op 20 Julie 1969 het Buzz Aldrin en Neil Amstrong op die maan geland.
Aldrin het vir Houston gevra vir ‘n kort stiltetyd.
Hy het die nagmaal-tekens wat hy saamgeneem het uitgehaal.
Hy het in die Eagle gesit en nagmaal gebruik! Om te dink die eerste
vloeistof en eerste voedsel wat op die maan gebruik is, die tekens van
die nagmaal sou wees! Aldrin het net voordat hy die tekens gebruik het
Johannes 15:5 gelees: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly
en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”
Aldrin het getuig dat ons niks kan doen sonder God nie!
“Julle moet in My bly.”
Ernest