“Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat
die Gees van God in julle woon nie? As iemand die
tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die
tempel van God is heilig, en die tempel is julle.” –
1 Kor. 3:16-17.
Jy is die kerk en die kerk is daar waar jy is! Wanneer ons
enige iets oor die kerk te sê het, praat ons oor onsself.
Jy is die tempel van die Heilige Gees! In die Ou Testament
was die tempel die simbool van God se teenwoordigheid.
Nou is ons die tempels. Waar ons gaan, gaan die kerk.
Wat ons doen, doen die kerk. Die Christendom is die eerste
godsdiens wat nie in ‘n tempel gebaseer is nie! God het die
tempel “gedesentraliseer” na die gelowiges toe. Dink net hoé
groot is dit! God bly in jou! Nou is Hy daar waar jy is.
Wonderlik ja, en ook veelseggend oor hoé jy na jouself omsien,
na ander mense omsien, en waar jy beweeg.
Wat doen God? Hy restoureer nie net die ou huis nie. Hy slaan
dit plat. Verander dit totaal in ‘n tempel waarin Hy nou woon!
So, waar jy nou beweeg, daar is God. Tussen vriende, familie,
vreemdes, oral. En waar jy is, is die kerk, en is dit kerktyd!
Jy verteenwoordig God nou oral! Wat ‘n verantwoordelikheid!
Daarom het Jesus gesê die loot moet in die wingerdstok bly.
Ons kan slegs vrug dra as dit gebeur, Hy in ons, en ons in Hom!
Langs die asemrowende Como-meer in Italië is ‘n villa met ‘n ewe
asemrowende tuin wat baie bekend is by toeriste. Eendag het ‘n
toeris aan die ou tuinier, wat al jare die tuin versorg, gevra hoe
gereeld die eienaar dit besoek. Die tuinier het gesê baie selde, so
een keer in vyf jaar. Die toeriste was baie verbaas om dit te hoor.
Hulle wou toe weet van wie kry die tuinier sy opdragte? Hy het
gesê van die agent in Milaan, wat ook nie gereeld daar kom nie,
so een keer ‘n jaar. Die toeriste was nog meer verbaas. Die toeris
wat die eerste vraag gevra het, het gesê: “Jy het geen toesig oor
jou nie, en tog lyk die tuine asof jy die eienaar môre terugverwag!”
Die ou tuinier het opgewonde geantwoord: “Vandag meneer,
nie môre nie, maar vandag!” Die ou tuinier was deurgaans getrou
aan die vertroue wat die eienaar in hom gestel het!
Hoe lyk ons? Is ons ook so getrou in die vertroue waarmee God
in ons kom woon om Hom te verteenwoordig? Iemand het gesê:
“Baie meer mense sou tot redding kom as Christene meer gered
gelyk het, en meer gered geleef het.” Kom ons onthou dat ons
die tempel van God is. Kom ons let op na wat ons sê en doen.
Kom ons wees regtig verteenwoordigers van God in alle fasette
van ons lewe. 1 Kor. 6:19 sê: “Julle het die Heilige Gees wat in
julle woon.” Ons dryfkrag moet, soos in die vroeë kerk,
die Heilige Gees wees! Die Heilige Gees wil ons neem na die
wêreld wat honger is na God! In terme van wat die tuinier gesê
het: Verwag God vandag!
Leef met die wete: “Die Here is naby.” – Fil. 4:5.
Só naby, Hy lééf in jou! Jy is tempel van die Heilige Gees!
Ernest