“ Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom.” – 2 Kor. 5:17.
Ferdinand Deist het in sy boekie, “Jy is ‘n nuwe mens”,
geskryf oor hoe ‘n getuigskrif van God moontlik oor jou
sou lyk. Dit sou min of meer die volgende sê:
God sal getuig dat Hy jou persoonlik ken. Jy is vir Hom so
belangrik dat Hy jou al van voor die skepping beplan het.
Toe jy soek geraak het, het Hy nie gehuiwer om sy Seun
‘n mens te laat word om jou te gaan soek en terug te bring
nie. Jy is vir Hom weinig minder as ‘n hemelse wese en Hy
het jou met aansien en eer gekroon. Daarom het jy alle mag
oor die bose en kan jy groot dinge doen. Jy kan jouself verloën,
jy is in staat om te verander, jy kan versoeking weerstaan,
jy kan bid en ontvang, jy kan liefhê, jy kan omgee, en jy kan
vergewe. Jy kan bly lewe, al het jy ook gesterwe. God kan jou
met vrymoedigheid aanbeveel, want jy verteenwoordig Hom.

Wát ‘n getuigskrif! Dit verwoord 2 Kor. 5:17. Jy is ‘n nuwe mens!
Dit gebeur deur die wedergeboorte. Dit gebeur onmiddellik
wanneer die Heilige Gees dit bewerk. Maar om as nuwe mens te
groei is ‘n lewenslange proses. Die Heilige Gees in jou, lei jou
daagliks daarin. Dit is nie iets wat jý doen nie, maar wat die Gees
in jou en deur jou doen. Die Griekse woord wat Paulus hier vir
“nuut” gebruik is “kainos”. Dit beteken “iets wat nog nooit daar
was nie, iets verrassend anders, iets wat net God kan doen”.
Soos elke baba wat gebore word uniek is, en verrassend anders,
net so is elke mens wat deur God nuut gemaak word ook uniek
en verrassend anders. So radikaal soos lig teenoor donker.
Jy word soos God bedoel het jy moet wees.

Jy vra nou wat Jesus wil hê jý moet doen.
Net die volgende vers 18 sê; jy word nou ‘n bedienaar van die
versoening. Wat beteken dit? God het in Jesus Christus gesorg
dat almal wat verlore geraak het gevind kan word. Dat hulle wat
soekend is, gered kan word. Jesus het self gesê dat daar baie
woonplek is in die huis van sy Vader. Paulus verduidelik dit so in
vers 19: “Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God
deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense
hulle oortredinge nie toereken nie.” Dit is nie ‘n eendag-ding wat
eendag kan gebeur nie. Dit is ‘n nou-ding. Dringend! Jy moet nou
al nuut leef en die bediening van die versoening uitleef.
Die geheim lê in die woorde van vers 17:
“Iemand wat aan Christus behoort...”

Ernest