Daar word vertel dat Thomas Edison ongeveer 50 000
eksperimente uitgevoer het voordat hy die opgaarbattery
kon maak. Was dit nou alles mislukkings? Of was dit alles
klein stukkies “sukses” om by die groot deurbraak te kom?
Toe iemand in die proses vir hom gevra het of hy nie mismoedig
raak nie het hy geantwoord: “Mismoedig? Die 50 000 dinge wat
nie gewerk het nie, het my tot by die een gebring wat werk!”
Almal was nodig. Ons moenie dit wat ons doen of wie ons is,
te gou sien as mislukking nie. Thomas Edison het uiteindelik die
mikrofoon uitgevind, die fonogram, die gloeilamp, die opgaarbattery,
die film met klank, en blykbaar meer as 1000 ander dinge!
Edison se geboue het afgebrand toe hy al 67 jaar oud was.
Al sy bates is in die brand verwoes. Sou Edison se gees hierdie
terugslag oorleef? Toe Edison die volgende oggend na die puinhoop
gekyk het, het hy gesê: “Daar is groot waarde in enige ramp.
Al ons foute is uitgewis. Alle eer en dank aan God dat ons weer
‘n splinternuwe begin mag hê.”

In al die dinge wat in die wêreld met ons gebeur, moet ons
steeds weet ons is meer as oorwinnaars. Kinders van die Here
is nie mislukkings nie, al tref teenslae jou. Dit het niks te doen
met die feit dat jou geloof een of ander heldedaad is nie.
Edison se verhaal van “alle eer en dank aan God” onderstreep
wat Romeine 8:37 sê: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as
oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” Let op die belangrike
woorde: “...deur Hom...” In Jesus is ons meer as wenners!
Dit is die Here wat aan mense soos Edison, en ons, die krag gee
om weer op te staan na beproewings en mislukkings, en dan
meer as oorwinnaars te wees.

Die woorde dat “ons meer as oorwinnaars is”, tesame met die
woorde van verse 37-39 dat niks ons ooit van die liefde van God
kan skei nie, vertel vir ons iets baie belangrik van God, en die lewe,
wat ons nooit moet vergeet nie. Die lewe kan ons dikwels baie hard
behandel, oor verskeie redes en as gevolg van verskeie oorsake,
waarin ook ons ‘n aandeel gehad het. Maar God los ons nie.
Ons vat houe as gevolg van baie dinge in hierdie gebroke wêreld,
dinge waaraan ons self ook skuld het. Maar God los nie sy kinders nie.
Daarom kan ons na elke mislukking weer opstaan. Ons kan soos
‘n bokser rondtes verloor, maar in die Here verloor ons nooit die
geveg nie.

Onthou en doen die volgende dinge, in die Here:
Staan weer op. Die lewe bestaan uit val en opstaan.
Word stil by God. Al is dit hoe moeilik, gaan na Hom toe. Al sug jy
net by Hom sonder woorde. Hy weet. Hy ken jou. Hy het jou lief.
Gesels met medegelowiges wat jy in jou vertroue neem. God werk
deur hulle.
Vier die fees van die lewe. God wil te midde van alles vir jou die
lewe met vreugde in oorvloed gee. Glo dit! Dit is wat Jesus gesê het.
Dink en tree op onder leiding van die Heilige Gees. Moenie net
blindelings jou eie kop volg nie.
Byt vas wanneer alles donker en uitsigloos lyk.

By ‘n ete na die Tweede Wêreldoorlog het ‘n man aan Winston
Churchill gesê: “At the battle of the Bulge the British soldiers were
more brave than the Nazi soldiers. The battle of the Bulge proof that.”
Churchill het geantwoord: “ That is not true. The Nazi soldiers were
just as brave as the British soldiers. But the British soldiers were brave
for five minutes longer.” Byt vas wanneer alles donker en uitsigloos lyk.
Want niks kan jou skei van die liefde van God in Christus nie.
“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars...”

Ernest