Een van die mooiste beelde wat in die Bybel
gebruik word is die van Paulus in 1 Kor. 12:27:
“Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik
is elkeen ‘n lid daarvan.” Alhoewel Christus nie
meer in liggaam in die wêreld is nie, gebruik Hy
nou gelowiges om Hom te verteenwoordig.
The Message vertaal dit so: “You are Christ’s body
– that’s who you are – you must never forget this.”
Iemand het dit so gestel: As Hy ‘n kind wil leer gebruik
Hy ‘n opvoeder. As Hy ‘n mens wil genees gebruik Hy ‘n
geneesheer. As Hy wil hê iemand moet sy verhaal hoor en
Hom leer ken, gebruik Hy ‘n getuie. Dit is hoe Christus werk.
Oral gebruik Hy alle gelowiges om Hom te verteenwoordig.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog is ‘n Christusbeeld in
Noorweë verwoes. Na die oorlog het die dorpenaars die beeld
herstel. Hulle kon nooit die hande en voete kry nie, maar het ‘n
plaatjie opgesit met die woorde: “Jy wonder seker waar Sy voete
en hande is. Hou op wonder. Jý is sy voete en hande in die wêreld.”

As deel van die liggaam van Christus is ons aan mekaar verbind.
Wanneer een deel van die liggaam ly, ly die hele liggaam. En wanneer
een lid bly is, is almal bly. As liggaam van Christus moet ons die draers
wees van God se genade en liefde.
Oor die liggaam van Christus moet ons sê:
Ons maak jou ‘n beter ek. In die geloof gaan dit eerder oor “ons” as
oor “ek”. Ons het mekaar nodig. Niemand is belangriker as iemand
anders in die liggaam van Christus nie. Ons is almal vir die Here ewe
spesiaal. Ons doen dinge saam. Ons bereik saam baie meer as elkeen
op sy eie. Ons gee om vir mekaar. Die lede dra gelyke sorg vir mekaar.
Ons dien mekaar.

Teresa van Avila het hierdie wonderlike woorde geskryf:
“Christus het geen liggaam op aarde behalwe joune, geen hande
behalwe joune. Jou oë is die oë waardeur die liefde Christus na die seer
van die wêreld kyk. Jou voete is die voete waarmee Christus goed wil
gaan doen. Jou hande is die hande waarmee Hy nou wil gaan seën en sorg.”
Ons is die liggaam van Christus. Afsonderlik is elkeen deel van die liggaam.
Leef as deel van die liggaam. Dit gaan nie oor jouself nie.

Ernest