Johannes 15:13-15: “Niemand het groter liefde as dit nie;
dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle
doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes
nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee,
Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader
gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”
Jesus ken ons by die naam. Om presies die omvang van Christus
se woorde “Ek noem julle vriende” te verstaan, moet ons die
agtergrond van sy woorde verstaan. Daar was in Jesus se tyd ‘n
gebruik by die Oosterse konings en die Romeinse keisers dat in
hulle hof-houdings daar ‘n klein groepie mense was wat bekend
gestaan het as hulle vriende. Hulle het vrye toegang tot die konings
en die keisers gehad. Die konings en keisers het dikwels met hulle
vriende gepraat nog voordat hulle met hul raadgewers, generaals
of leiers gepraat het. Hierdie vriende het die nouste kontak met
die koning of keiser gehad. Teen hierdie agtergrond noem Jesus
ons sy vriende. Hulle wat vrye toegang tot Hom het!
Ons het vrye toegang tot Jesus! En ons weet ook deur die kruis
en opstanding het ons, deur Jesus, vrye toegang tot God.
Kan jy verstaan hoekom dit so spesiaal is dat Jesus ons sy vriende
noem. Ons kan enige tyd na Hom toe gaan. Soos die Halleluja lied
gesing het: “Wat ‘n vriend het ons in Jesus!”
Die Kelte het ‘n mooi verstaan van vriendskap gehad. In die Keltiese
kerk is die persoon wat as die geestelike gids, mentor en vertroueling
opgetree het ‘n “anam cara” genoem. Dit het beteken:
“vriend van die siel”. Vandag nog praat ons van ‘n sielsvriend.
Aan hierdie persoon, ‘n “anam cara”, het jy jou vertroulike aspekte
van jou ganse lewe bely. Hierin was ‘n spesiale intimiteit.
Jesus Christus is die volmaakte “anam cara”. Hy sien jou volledig
vanuit ‘n ewigheids-perspektief. Hy sien jou soos God jou sien.
Hy is jou sielsvriend!
Daarom is dit so belangrik om vir hierdie Vriend tyd te maak en jou
hele lewe met Hom te deel. Dit is die stiltetyd van jou lewe wat
lewensbelangrik is. Die gebed-tyd wat die asemhaling van jou siel is!
Wanneer jou geestelike lewe dor en “leweloos” is, moet jy weet dit
is hier waar lewe “gewek” word. Jy is reeds ‘n nuwe mens in Jesus.
Maar jy kan nie sonder die brood van die Woord en die water van
die Lewe leef nie. Kry dit by Jesus in tyd saam met Hom.
Hy wat van ons sê: “Julle is my vriende!”
Wat ‘n Vriend het ons in Hom!
Ernest