“Maar deur die genade van God is ek wat ek is.
Sy genade aan my was nie tevergeefs nie...” – 1 Kor. 15:10.
Ons kan nooit iemand anders probeer wees nie. In die eerste
plek bluf ons onsself. Verder gaan die lewe ons uitvang.
Die probleem is dat baie mense nie meer lekker weet wie hulle
is nie. Die Here wil ons help om te besef wie ons werklik is.
Hierdie vers van Paulus in 1 Kor. 15 beteken geweldig baie vir
ons selfbeeld en eiewaarde. Wat jy is, is jy deur die genade van
die Here. Daarom moet jy juis nie minderwaardig oor jouself
dink nie. Om jouself deur God se oë te sien, is die begin van lewe.
Giovanni Guareschi se verhale oor die priester Don Camillo is so
waardevol om te lees. In een van die verhale kom die burgemeester,
Peppone, vir die priester kuier. By die voordeur kondig die
burgemeester homself aan: “Ek is hier in die hoedanigheid van
burgemeester, burger van die dorp, vader van ‘n familie, Christen,
lidmaat van die kerk en eerlike mens.” Die priester roep toe van
binne af: “Dit is te veel mense, te ‘n groot skare. Kom net as
Peppone binne, en los die res buite.”
As Christen-gelowige het ons geen titels nie. Jy is maar steeds
net jy. Natuurlik is jy ‘n nuwe mens en ‘n baie spesiale jy in God
se oë! Jy is nou deur God se genade vir die eerste keer wie Hy
bedoel het jy moet wees. Wees daarom ook net jouself tussen
ander mense. En daardie mens is, deur die genade van God,
die nuwe mens in Jesus Christus! Wees daardie mens oral waar
jy leef. Net daardie mens! Dit is wie God bedoel jy moet wees.
Los maar die “skare” en die “stralekrans” buite. Wees net jou
beste self soos die Here jou bedoel om te wees.
Omhels die gawes wat God jou gee en waarmee Hy wil hê jy
Hom en ander moet dien. Jy is vir God spesiaal. Hý inspireer jou!
Iemand het vir die komponis, Brahms, gevra wat is inspirasie en
genialiteit? Hy het gesê die beste definisie is Johannes 14:10:
“Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie;
maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen.”
Brahms het verder gesê: “Jesus was die wêreld se top genie
omdat Hy geweet het waar sy Bron is. Enige genie moet by
daardie Bron diep teue gaan drink. Sonder God is ons niks en
kan ons niks doen nie.”
Wie ons is, word deur God bepaal, wat Hy van ons dink,
en dat Hy ons geskep het, en in Christus herskep het, tot die
mens wat Hy bedoel ons moet wees. Daarom dat Paulus in
1 Kor. 15:10 sê: “...deur die genade van God is ek wat ek is...”
Ernest