In Afrikaans het ons ‘n spreekwoord wat lui:
“Moet jou nou nie so heilig hou nie”. Dit laat ons dikwels
sukkel om te verstaan wat heilig in Bybelse terme beteken.
En dit is jammer. Bogenoemde spreekwoord het iets te doen
met “volmaak” of “sondeloos” wees. En dan verstaan ons ook
dat heilig iets is soos volmaak of sondeloos. Dit is nié wat “heilig”
in Bybelse terme beteken nie. Ons moet die ware betekenis
daarvan begryp. Dit het ‘n mooiheid en ‘n diepte waarmee ons
elke dag moet saamleef.
“Heilig”, in Bybelse terme, beteken “iemand wat aan God gewy is”!
Paulus begin sy brief aan die Efesiërs so in vers 1: “Aan almal in Efese
wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.”
Die Griekse woord wat hier vir “heilig” gebruik word, word vertaal
met “hulle wat aan God behoort”. Die 1953 vertaling het nog vertaal
met “heilig”. Met ander woorde, ons almal wat aan God behoort,
deur ons geloof in Christus Jesus, is heilig! Hulle wat aan God behoort
is ook aan God gewy. Dit is wat heilig beteken in Bybelse terme.
Dit is interessant om te weet dat die woord Christen net drie maal in
die Nuwe Testament gebruik word en nooit eers deur Paulus self nie.
Paulus kies doelbewus die woord “heiliges”, hulle wat aan God behoort,
om ons as Jesus-volgelinge te beskryf. Die belangrike is dit:
Hierdie woord “heilig” beklemtoon wat God in én vir ons doen, en nié
wat ons vir God doen nie. Hierdeur wil Paulus beklemtoon dat ons nie
onsself moet verstaan in terme van hoe ons oor onsself voel of dink nie,
maar hoe God oor ons voel en dink, en wat Hý met ons doen!
Nou die belangrike: Alle Jesus-volgelinge word heiliges genoem.
Ongeag hulle reputasie of gedrag. Heiliges is nie uitstaande gelowiges
of sogenaamde “geloofshelde” nie, maar alle mense wat Jesus volg!
Daarom kan jý wéét dat jy wat Jesus volg in God se oë heilig is en dat
Hy jou ‘n heilige noem omdat jy aan Hom behoort en aan Hom gewy
is in Christus Jesus.
Wat maak ons dus anders? Ons is altyd en oral bewus van die
teenwoordigheid van Jesus Christus. Ons leef toegewy aan die Here.
Ons dien ons naaste ter wille van Jesus. Heiliges is juis mense wat
hulle voete stewig op die aarde het, en in die realiteite waarin hulle
leef ‘n verskil maak. Dit is ons!
Omdat ons weet God is 24/7 teenwoordig in ons lewe, weet ons die
grond waarop ons staan is heilig, en ook die grond waarop ons by
ander mense staan, is heilig. Ons verteenwoordig God by hulle.
Elkeen is na die beeld van God geskep. God wil hê dat alle mense
tot redding en kennis van die waarheid kom. Heilige mense,
mense wat aan God behoort, óns, het ‘n sagte oog vir ander,
‘n vriendelike hart, en ‘n oop hand.
Kom ons leef uit wie ons is. Heiliges. Toegewy aan God.
Want ons behoort in Christus Jesus aan God!
Ernest