Dit is onbeskryflik groot om te dink jy is ‘n heilige van God!
Die teoloog Martin Buber het gesê vir gelowiges het die
lewe twee sakke. Hy sê ons haal uit die een sak ons geringheid –
“Ons is niks anders as stof nie” – maar uit ons ander sak haal ons
ons grootheid, dat ons spesiaal vir God is: “Ter wille van ons is
die skepping gemaak”. God skep ons om sy liefde met ons te deel.
Martin Luther het gesê ons is heiliges, maar ook sondaars.
Tegelykertyd sondaar en regverdige/heilige, in en deur Christus!
Heiliges word nie deur hulle sonde gediskwalifiseer nie. Ons weet
heiliges is dikwels mense wat vroeër ‘n groot gemors van hulle
lewe gemaak het voordat hulle tot redding in Christus gekom het.
Ons weet ook dat ons nog daagliks foute maak en sonde doen.
Maar dit diskwalifiseer ons nie as heiliges nie. Ons behoort steeds
aan God, in Christus.
Heiliges se passie vir die lewe kom eers wanneer hulle besef dat
God hulle deur alles steeds oneindig liefgehad het. Ons vind immers
eers die Here nadat Hy ons gevind het. Jesus het gekom om te soek
en te red wie verlore is.
Die “twee sakke” van die lewe, waarvan Martin Buber praat,
sê dat ons totaal afhanklik is van God se genade. Vir alles!
Daarom dink heiliges nie in terme van hulle beperkings nie,
maar in terme van wat God deur hulle kan en wil bereik.
Ons kan dit só stel:
As sondaars kan ons nie die wêreld verander nie, maar as heiliges
kan ons verander waar ons leef, oral waar ons leef.
As sondaars kan ons nie ons gemeenskappe verander nie, maar as
heiliges kan ons daar verander waar ons leef in die gemeenskap.
En uiteindelik begin ons dan by onsself verander, dan ons
gemeenskap, en dan die wêreld!
Heiliges het ‘n intense behoefte aan ‘n stukkie hemel op aarde.
Ons beperkings skuif dit nie opsy nie. Klein dinge wat ons doen
word groot dinge in God se hand. Die seuntjie het aan Jesus twee
vissies en vyf brode gegee. Die pad na heiligheid loop altyd deur
die gewone aksies van alledaagse lewe.
In 1953 het verslaggewers en belangrike mense op die Chicago
stasie gewag om die Nobelprys wenner te verwelkom. Hy het uit
die trein geklim terwyl die kameras flits en almal sê hoe geëerd
sy teenwoordigheid hulle laat voel. Hy het hulle bedank en gevra
of hulle hom ‘n oomblik kan verskoon.
Hy het deur die skare geloop na ‘n bejaarde swart vrou wat
gesukkel het om twee groot tasse te probeer dra. Hy het haar
raakgesien. Hy het die tasse opgetel en tot by die bus gedra
waarin hy haar ingehelp het. Toe het hy weer na die skare
gedraai en verskoning gevra dat hulle vir hom moes wag.
Hierdie man was dr. Albert Schweizer, die beroemde sendeling-
dokter, wat sy lewe gegee het om die armstes onder die armes
in Afrika te help. Een van die hooggeplaastes het aan die
verslaggewers gesê:
“Dit is die eerste keer dat ek ‘n lopende preek gesien het.”
Leonardo Boff het gesê: “Elke heilige het ‘n nuwe vergeefde
verlede, en ‘n blink nuwe toekoms, sodat hy van die héde
‘n stukkie hemel op aarde kan maak! Heiliges is nie bonatuurlike
of onnatuurlike mense of helde nie. Heiliges is gewone mense
wat met hulle lewe dit vir ander gewone mense makliker maak
om te glo 1dat God leef, en dat Hy ons liefhet.”
Dit is ‘n heilige in aksie. En jy kan, want God self sê jý is heilig,
aan Hom gewy. Leef heilig!
Ernest